19 dae gelede
Dis nie oorle ma wat pla...
DOODBANG: Kelly Mejanie sê een van die spoke is haar oorle ma, maar die ander lot ken sy van g’n kant nie.  ~ Siyabonga Sesant

INWONERS van Coloradostraat in Missionvale sê dit wemel al meer as 20 jaar snags hier van onrustige siele.

Dit het glo begin nadat ’n verwoestende brand in die 1990’s ’n hele paar mense se lewe geëis het.

“Een van die spoke is my ma,” vertel sy, diep ingedagte. “Die ander ken ek nou nie. Ek is bang vir hulle.”

Mejanie sê sy hoor die spoke in die middel van die nag wanneer hulle hul voete op die vloer sleep.

“Dis asof hulle wil hê ek moet hulle hoor. En dis nie net een spook nie. Dis spoke!” sê sy met piering-oë.

“Soos ek gesê het, ek is baie bang vir ’n spook.

“Maar ek weet wanneer my ma (se spook) by my was, want wanneer ek opstaan in die oggend, dan is die skottelgoed gewas,” sê sy.

Rent

Van die spoke is egter nie so gaaf wanneer dit by Mejanie se huismaat, ene Claude­, kom nie.

Claude moan glo dat hy gereeld in die nag “gedruk” word.

Mejanie pak uit: “Dis omdat hy nie op tyd rent betaal nie. Die antie wat voor ons hier gebly het, het nie gehou van manne nie.

“Hulle sê manne het haar altyd gedisappoint en nooit rent betaal nie. Dis hoekom hy so gedruk word.

“Hoekom word hy dan allenig gedruk? En nog veral wanneer hy nie boarding betaal het nie? Jy kan jouself mos vra!”

Claude wou glad nie kommentaar lewer nie.

Maar Mejanie vertel verder: “Dan moet jy hoor hoe skreeu hy wanneer die spoke hom so druk.

“Dis net: ‘Jou ma se p**s! Gaan rus! Jou ma se d**s, los my uit!’ ”

Die huis is glo gebou baie naby ’n erf waar ’n hele paar mense ’n paar jaar gelede doodgebrand het.

“Daar is klomp mense dood daar waa’ daai huis gebou is.

“Daar was eers ’n groot plateplek (shack) met ’n klomp kamertjies,” sê een van Mejanie se bure, Dean Julies.

Mejanie sê sy het haar een nag amper doodgeskrik toe sy iets wat soos ’n tokkelossie lyk in die toilet sien staan.

“Nou kyk hier, ek het ’n pee gehad, maar nou toe dink ek: J*ss*s, ek het nie nou lus om spoke te sien nie.

“Maar nou toe druk die pee my en ek force myself maar om op te staan.”

Die toilet se deur – dis net buitekant haar slaapkamer – was oop.

“Nou toe sien ek die klein mannetjie wat so daar staan (by die ingang).

“Die lig was af en ek kon nie lekke’ sien nie.

“Ek het groot geskrik en toe skreeu ek: Hei, jou ma se d**s!”

Mejanie sê dit wat volgende gebeur het, het sy glad nie verwag nie.

“En toe kom daar ’n klein stemmetjie: ‘Nee, Mamma dit is dan ek,’ ” het haar sewejarige seun rustig gesê.

“Ek sê toe vir hom: J*rr* J*s*s, jy doen dit nooit weer nie, want ons kan klaar nie slaap met die spoke in die huis nie! Ek het hom amper attack, jô!”

Rosemary Maarman (28), in die straat net bekend as Myt, het bevestig in die aand wandel spoke daar rond.

“Jong, dis mos nie ’n secret nie. Almal wat hier bly, weet dit spook hier,” het die vrou so half deurmekaar aan Son gefluister.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters