13 dae gelede
Dis ’n geherkou aan die herbou
LEEG: Daar is net dié kaal strook sementblad op die spot waar antie Lenie se huis oorgebou sou word.  ~ Theo Jephta

NOU hoe lank vat dit dan om ’n huis te herbou?

Dis die vraag op antie Lenie Jansen van Uitbr. 32 in die Northerns se lippe nadat sy nou al 13 winters sonder ’n ordentlike dak oor haar kop oor die weg moet kom.

Jansen (62) moet nou in ’n tydelike struktuur bly omdat haar huis in 2008 bouvallig verklaar en toe gesloop is.

“Aan my is toe gesê dat ek gou weer ’n ander huis gaan kry,” vertel sy moedeloos.

“Maar dis nou 13 jaar later en tot vandag toe was daar nog g’n sien van hierdie beloofde huis nie.

“Die plek wat hulle vir my opgesit het, kraak ook en val uitmekaar.

“My grootste vrees is dat ek nie vir lank ’n dak oor my kop gaan hê nie.”

Volgens Jansen het baie mense al kom kyk na haar penarie en selfs foto’s geneem. Dit bly egter net daar, sê sy.

Nood

Haar raadslid, Georgina Faldtman, probeer ook help en staan haar baie by.

“Ek is baie dankbaar vir dit wat Georgina doen. Sy probeer haar bes om my uit my nood te help.

“Ek weet net nie waar draai dinge vas nie. Partykeer is dit so koud in die aande dat ek my tweeplaatstoof deur die nag moet aanhou.

“Dit gebruik baie krag en ek is maar ’n pensioenaris.

“Ek het destyds baie bly geraak toe hulle die sementblad kom opsit het in die hoop dat ek my huis sou kry.

“Daar het egter niks van gekom nie,” vertel Jansen.

Toe Son Faldtman kontak, was sy in ’n vergadering en kon nie oor Jansen se geval uitwei nie.

’n Munisipale woordvoerder, Mthubanzi Mniki, het onderneem om die betrokke staatsdepartemente in te lig sodat hulle na Jansen se geval kan kyk.

Geen redes is egter verskaf oor hoekom Jansen ná 13 jaar steeds op die beloofde huis wag nie.

Intussen wink die winter vir Jansen – ’n anderse winter wat vanjaar ’n Covid-19-baadjie dra.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters