14 dae gelede
Dieseldief betrap met gesteelde trok
Photo by Bill Oxford on Unsplash
Die polisie in die Baai het 'n dieseldief betrap.  ~ Foto ter Illustrasie

’N DIESELDIEF in die Baai het sy rieme styfgeloop toe ’n private security company, in samewerking met die polisie, hom gevang het.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder, sê die voorval het gister om 03:15 gebeur.

Twee verdagtes het by ’n vulstasie in Govan Mbeki-weg in Sentraal gestop.

“Die twee mans het twee 25 liter-kanne vol diesel gegooi en met ’n trok daar weggery sonder om te betaal.

“Soos die verdagtes weggery het, het ’n voertuig van ’n plaaslike security company daar gestop om sy wiele te pomp, sê Janse van Rensburg.

“Die wag het daarna die trok agterna gesit. Die trok het op die hoek van Mackay- en Albanystraat gestop, waarna die twee verdagtes uitgespring en weggehardloop het.

“Die wag het die twee agterna gesit.

“Een van die verdagtes het toe op die wag begin skiet, waarna dié teruggevuur het.

Skietwond

“Die verdagtes het tot in die Noordeinde-gebied gevlug. Die polisie se 10111-sentrum is van die voorval ingelig en daar is dadelik begin soek na die verdagtes.

“Om 04:30 is ’n verdagte in Elizabethlaan met ’n skietwond in die arm gevind.”

Die verdagte (23) is ge­arresteer en na ’n hospitaal geneem vir behandeling.

In die ondersoek het die speurders van Humewood ontdek die lorrie is Dinsdagaand in ’n inbraak by ’n konstruksiemaatskappy in Newton Park gesteel.

Die verdagte word aangekla van diefstal, poging tot moord en die besit van ’n gesteelde voertuig. Hy word dié week in die plaaslike landdroshof verwag.

Vorder

Janse van Rensburg sê nog klagte kan dalk teen die man gelê word soos wat die ondersoek vorder.

Die tweede verdagte is nog op vrye voet.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters