Verlede maand
Die bloed vloei
NOODLOTTIG: Sharon Dagford is enkele minute vroeër in Reyneckestraat doodgeskiet.  ~ Theo Jeptha

’N VERMEENDE gangster (23) verskyn vandag in die Baaise landdroshof in verband met die skietdood Saterdag van ’n vrou (50).

Die slagoffer is Sharon Dagford van Librastraat in Helenvale.

Die skietvoorval het 15:45 in Reyneckestraat gebeur.

Volgens kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, is Dagford in die wang getref terwyl sy besig was om in die straat te stap.

Naidu sê dit is in dié stadium onduidelik op wie die verdagte geskiet het.

Hy word aangehou op klagte van moord en poging tot moord, asook die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Die vuurwapen gaan binnekort weggestuur word vir ballistiese toetse.

  • In nog ’n voorval Saterdag is ’n man in Beckstraat, Bethelsdorp, noodlottig gewond.

Die voorval waarin die 37-jarige Dewaydian Thomas doodgeskiet is, het omstreeks 21:00 gebeur.

Kol. Naidu sê die voorval het gekom toe Thomas en ’n ander persoon in Beckstraat gestaan het.

’n Onbekende persoon het toe twee skote of hulle afgevuur.

Thomas het ’n skietwond in die rug opgedoen, terwyl die ander persoon in die been gewond is.

Die polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord.

  • In ’n ander skietvoorval Saterdag is ’n 35-jarige man in die sitkamer van ’n huis in Bondagestraat, Kleinskool, doodgeskiet. Die slagoffer was Herman Felix.

Naidu sê omstreeks 21:45 het vyf vriende in die sit­kamer van die huis gesit.

Die verdagte is toe gespot waar hy in die rigting van die oop deur stap.

Verskeie skote is afgevuur op Felix – wat naby die voordeur gesit het.

Hy is op die toneel dood.

Voet

Sy vriende het weggehardloop om skuiling te gaan soek.

’n Vrou (26) het in dieselfde voorval ’n skietwond in die voet opgedoen.

Sy sê die voorval is bendeverwant.

Sake van moord en poging tot moord word ondersoek.

  • Intussen is die polisie se 72 uur lange aktiveringstrategie in werking gestel nadat die lyk van ’n 66-jarige man Vrydagmiddag in sy huis in Kunene Park aangetref is.

Naidu sê Vrydag omstreeks 14:45 het ’n vriend die huis van die slagoffer, Mark John Mullen, in Arlingtonstraat verlaat nadat hy daar gekuier het.

Om 16:40 het Mullen se vrou by die huis opgedaag en hom aangetref waar hy op die vloer lê.

Hy het veelvuldige steekwonde aan sy liggaam gehad.

Toegang tot die huis is deur die sitkamervenster verkry. Volgens Naidu was Mullen aan ’n rolstoel gekluister omdat hy vroeër ’n been verloor het.

Sy sê in dié stadium lyk dit of die Samsung-televisiestel gesteel is.

Volgens Naidu is die huis omgedolwe. Sy sê ’n lys van alle gesteelde items moet nog saamgestel word.

Die polisie by die Kabegapark cop shop doen ’n beroep op enigeen wat verdagte aktiwiteite in die omgewing gesien het of wat kan help om die verdagte(s) vas te trek, om AO Bertus Blom te bel by 082 303 0064. Inbellers kan ook 041 397 6833 skakel.

Hulle kan ook hulle naaste cop shop bel of die Crime Stop-nommer: 086 00 1 0111.

Mense met inligting kan ook die MySAPS app gebruik wat jy op jou selfoon kan download. Alle inligting sal vertroulik gehanteer word.

Kerk

  • In ’n skietvoorval Donderdag in Grootboomstraat is Deon Pullen koelbloedig afgemaai.

Kol. Naidu sê omstreeks 17:00 het Pullen in ’n yard in Grootboomstraat gesit.

Vier verdagtes het toe via die kerk se perseel in die betrokke yard gekom en verskeie skote afgevuur.

Die verdagtes het ná die voorval weggehardloop.

Die vier mans het na be­wering vroeër die dag na die slagoffer gesoek. ’n Moordsaak word ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters