2 maande gelede
Damvlakke styg mooi, maar...
amper vol: Só het die Churchill-dam die naweek gelyk. FOTO verskaf  ~ 

MET die onlangse swaar reën in die Oos-Kaap lyk die damme en die opvangsgebiede baie voller.

Volgens die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit se nuutste syfers is die Loerie-dam 100% vol.

Die Churchill-dam was gister teen lunch-tyd 90,49% vol.

Die Kouga-dam was tóé op 30,93% en die Groendal-dam op 48,2%. Die Impofu-dam was gister op 31,24%.

As die Churchill-dam oorloop, sal die water na die Impofu-dam gaan.

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het egter laat weet die reënval beteken nie die Baai se waterprobleme is opgelos nie.

Assesseer

“Ons moedig steeds inwoners aan om water spaar­saam te gebruik.”

Vandag gaan die burgemeester, Mongameli Bobani, en die mayco-lid vir infrastruktuur en ingenieurswese, Andile Lungisa, van die damme besoek om die situasie te assesseer en die impak op die waterkrisis te verstaan.

Vrydag het die DA onder leiding van Athol Trollip by die Churchill-dam gaan bid om dankie te sê vir die reën.

Garth Sampson van die Baaise weerkantoor het gister die reënvalsyfers sover vir September bekend gemaak.

In Joubertina het 245 mm geval, in Kareedouw 254 mm en in Patensie 110 mm. In Port Elizabeth by die Derde Laan-dip is 143 mm gemeet.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters