2 maande gelede
Cradock seun (8) nog vermis
sanjay borman
Sanjay Borman (8) is al byna 'n week lank vermis.  ~ Foto Verskaf

’N AGTJARIGE kind van Cradock in die Oos-Kaap is steeds soek nadat hy vermoedelik in die Groot-Visrivier beland het.

Sanjay Borman, 'n graad.2-leerder van Michaulsdal Primêre Skool, is verlede Donderdag laas gesien toe hy en twee maatjies (’n tweeling) van die skool af gestap het.

Die agtjarige se oom, Robert Nortje, vertel: “Sanjay en die tweeling is boesemvriende en onafskeidbaar. Toe hy teen Donderdagaand nie by die huis opdaag nie, het sy ouma by die twee gaan hoor waar hy is.”

Nortje sê ’n grootskaalse soektog is begin en die kind se ouma het hom toe ook by die polisie as vermis gaan aanmeld.

“Die polisie het ook by die soektog aangesluit, maar dit het niks vrugte afgewerp nie.”

Die familie het ook op sosiale media vir hulp gevra.

Volgens Nortjie het die post ’n jongman bereik wat Donderdag gesien het hoe twee seuntjies in die Groot-Visrivier speel. 

“Die jongman sê hy het gesien hoe drie kinders op die laagwaterbrug, wat oor die rivier loop, speel. Twee van hulle het ingeval en moeilikheid in die water gekry. Hy het toe ingespring, maar kon net een uit die water haal voor die stroom die ander een meegevoer het.”

Die jongman het na bewering die tweeling aangesê om die gebeure by die huis te gaan aanmeld. 

Dit blyk dat die kinders uit vrees nie die voorval aangemeld het nie. 

Kapt. Lariaan Jonker, ’n polisiewoordvoerder, bevestig dat hulle teen Dinsdag steeds na Sanjay soek. 

“Speurders op bystand, die honde-eenheid en duikers het die naweek na hom gesoek en soek steeds na hom.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters