2 maande gelede
Cops vang 6 ‘huisrowers’ binne ure
Kapt. Sandra Janse van Rensburg  ~ 

MINDER as 24 uur nadat twee huisrowe in Helenvale aangemeld is by die Mountweg-polisiekluster, is ses verdagtes gearresteer.

Die eerste voorval het Saterdag 23:25 in Bongostraat in Helenvale plaasgevind.

“Die klaer was aan die slaap en het wakker geword van ’n harde klop en ’n skop aan die voordeur.

“Hy het stilgebly toe die verdagtes hom by die naam roep om oop te maak,” vertel kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder.

“Een van die verdagtes het toe die diefwering by ’n venster oopgebreek en toegang tot die huis gekry.

“Die klaer is toe met ’n gun gedreig om die voordeur en hek oop te sluit.

“Vier verdagtes het die huis binnegegaan en deursoek.

“Daarna het hulle gevlug met juweliersware en twee selfone ter waarde van R25 500.”

Die voorval is eers Dinsdag by die polisie aangemeld.

Binne enkele ure is drie verdagtes wie se ouderdomme van 23 tot 25 wissel, in Helenvale gearresteer.

In ’n voorval Woensdag 01:15 was die 29-jarige klaer aan die slaap by sy huis in Virgostraat in Helenvale toe sy girlfriend wakker skrik van ’n harde kap by die voordeur.

Ingestorm

“Toe sy na die deur gaan, het die verdagte daarop aangedring dat hulle die deur oopmaak, want hy wou sigarette koop.

“Die klaer het toe self na die deur gegaan en die verdagte aangesê om te loop, waarna hy weer daarop aangedring het dat hy sigarette wou koop.”

Toe die klaer uiteindelik die deur oopmaak, het drie verdagtes ingestorm.

’n Paar tekkies, ’n sokkerbaadjie, ’n paar pakkies sigarette en ’n klein bedraggie is gesteel.

“Die klaer het die verdagtes geken en Woensdag net ná 09:00 is al die verdagtes ge­arresteer.”

Die gesteelde goedere is nog nie teruggevind nie, maar die ondersoek duur voort.

Al ses verdagtes sal gedurende die week in die Baaise landdroshof verskyn op klagte van huisroof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters