10 dae gelede
Cops vang 3 vroue wat lieg oor ontvoering
kapt. Andre Beetge  ~ 

DRIE vroue is gister gearresteer nadat hulle ’n vals ontvoeringsaak geopen het.

Kapt. André Beetge, ’n polisiewoordvoerder, sê die arrestasie volg nadat die drie vroue beweer het hulle is Sondag 21:00 vanaf Truckers Inn in Wells Estate ontvoer.

“Hulle het ’n lang storie gegee van hoe hulle in ’n taxi gedwing is en daarna deur ses mans in ’n ander voertuig naby Corobrick op die M17 en Swartkopsweg gedwing is.

“Hulle moes glo ’n tienjarige meisie in ’n rooi Toyota Tazz agterlaat voordat hulle na ’n oop veld geneem is.

“Daar is hulle glo sonder enige rede aangerand voordat hulle weer in Seyisistraat in New Brighton afgelaai is.

“Hulle het die polisie hiervandaan gekontak om hulle te waarsku dat die tienjarige meisie steeds by die ontvoerders is.

Agterdogtig

“ ’n Ontvoeringsaak is by die New Brighton-stasie geopen en die polisie het deurnag na die meisie gesoek.”

Beetge voeg by dat die polisie egter agterdogtig geraak het oor die storie, en ná deeglike ondervraging het dit geblyk dat die hele storie ’n leuen was.

Die drie vroue van 24, 33 en 34 jaar oud is by die Swartkops-polisiestasie vir meineed gearresteer.

Hulle sal môre in die Moth­erwell-landdroshof verskyn.

Genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Motherwell- polisiëringsgebied, het benadruk dat die polisie ’n noodsaaklike diens aan hul gemeenskappe lewer.

“Die aanmeld van vals sake vermors nie net waardevolle polisiehulpbronne nie, maar veroorsaak ook dat die polisie se aandag afgelei word van werklike en ernstige misdade wat polisiehulp nodig het,” het Rabie gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters