21 dae gelede
Cops soek twee vir moorde
IN AANHOUDING: ’n Verdagte (24) is in Arcadia in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ammunisie en poging tot moord.  ~ Foto ter illustrasie

COPS van die Algoapark-polisie soek na twee verdagtes wat na bewering by ’n dubbele moord Sondagaand in Missionvale in die Baai betrokke was.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê Bradley Wittings (29) en Nathan Koerts (23) was omstreeks 23:00 in hul shack in Wittings Ground toe hul deur afgetrap is. Volgens Naidu is skote gehoor.

Sy sê ’n neighbour het die twee mans later dood in die shack aangetref.

Wittings het skietwonde in die bors opgedoen, terwyl Koerts ’n skietwond in die kop opgedoen het.

Naidu sê die motief vir die skietvoorval is in dié stadium nog onbekend.

Volgens haar is die verdagtes ook onbekend en die polisie ondersoek tans twee moordsake.

Enigeen wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan AO Errol Kleinhans by 083 243 4567 of die naaste polisiestasie bel.

Andersins kan die polisie se Stop Misdaadlyn, 08600 10111, gebel word. Die polisie sê alle inligting is vertroulik en inbellers mag anoniem bly.

Intussen sou ’n vermeende moordenaar na verwagting gister in die Cofimvaba-landdroshof verskyn het in verband met die moord op ’n 79-jarige vrou op Mandela­dag Saterdag.

Geloof

Unathi Binqosi, woordvoerder vir die Oos-Kaapse LUR vir veiligheid en skakeling, Weziwe Tikana-Gxothiwe, sê die vrou is in die vroeë oggendure met ’n elektriese koord in haar huis in Woodhouse, Cofimvaba, doodgewurg. Sy het alleen daar gewoon.

Tikana-Gxothiwe het die polisie en die gemeenskap geloof vir hul goeie werk wat gelei het tot die inhegtenisneming van ’n 35-jarige verdagte.

Binqosi sê ’n neighbour het die bejaarde vrou se lyk aangetref. Die polisie is toe laat weet.

Volgens Binqosi waarsku Tikana-Gxothiwe dat die moord op enigeen – veral bejaardes – nie geduld sal word nie.

Sy doen ’n beroep op die polisie en gemeenskappe om nou selfs nouer saam te werk om soortgelyke voorvalle te voorkom.

Tikana-Gxothiwe sê: “Ons sal nooit ’n situasie toelaat waar bejaardes en kwesbares in ons gemeenskappe die heeltyd in vrees leef dat hulle aangeval of vermoor gaan word deur sommige in ons gemeenskappe nie.”

Sy doen ’n beroep op jong mense om op te tree as beskermers en nie bejaardes leed aan te doen nie. Tikana-Gxothiwe doen ook ’n beroep op gemeenskapstrukture en veral die polisie om saam te werk om nog moorde te voorkom.

Voorts het die polisie se eenheid teen bendes en lede van Port Elizabeth se K9-eenheid ’n 24-jarige gangster in hegtenis geneem ná ’n voorval van poging tot moord in April in Arcadia in die Baaise Northerns.

Naidu sê op 21 April omstreeks 09:00 het die 19-jarige klaer in Hoffmanstraat, Arcadia, gestap toe hy sien hoe die verdagte by ’n yard uitgaan.

Die klaer is in die maag en voet getref toe die verdagte verskeie skote op hom afgevuur het.

Die verdagte het ná die voorval weggehardloop.

Naidu sê die afgelope Sondag omstreeks 07:30 is inligting ontvang dat die verdagte by ’n huis in Diederickstraat is.

Volgens haar is die inligting onmiddellik opgevolg en die huis is deursoek. Cops het die 24-jarige verdagte in ’n shack agter die huis aangetref.

Aangehou

Hy het drie koeëls in sy besit gehad.

’n Tuisgemaakte vuur­wapen is ook in die shack aangetref.

Volgens Naidu word die verdagte aangehou op klagte wat verband hou met die onwettige besit van ammunisie en poging tot moord.

Sy sê ’n enquiry docket is aangelê in verband met die tuisgemaakte vuurwapen.

Die verdagte verskyn na verwagting vandag in die Baaise landdroshof.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters