24 dae gelede
Cops soek killer van bejaarde
Die polisie soek die moordenaar van 'n bejaarde vrou.  ~ Son

’N BEJAARDE vrou van Rowallan Park in die Baai is Saterdag tydens ’n rooftog in haar huis vermoor.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê Saterdag tussen 10:30 en 11:30 was die Snyman-egpaar tuis toe ’n onbekende verdagte toegang tot die huis verkry het deur ’n deur wat oopgesluit was by hul huis in Maasdorpstraat.

Volgens Naidu het die verdagte vir Martha Snyman (83) in die gang van haar huis gekonfronteer. In ’n gestoei is Snyman se kop teen ’n muur gestamp, waarna sy geval het. Sy het op die toneel aan haar beserings beswyk.

Die slagoffer se man, David (76), het ligte beserings aan sy kop opgedoen toe die verdagte hom in die sitkamer gekonfronteer het.

Beskrywing

Volgens Naidu het die verdagte ná die voorval by die huis uitgehardloop.

Sy sê volgens ’n beskrywing van die verdagte het hy ’n donker gelaatskleur en het met die voorval donker klere aangehad.

Hy het daarby ’n groen broek gedra en het ’n afro-haarstyl gehad.

Enige een wat die polisie kan help om die verdagte op te spoor, word gevra om speurkonst. Ronald Mahleza te bel by 082 442 1384 of die Kabegapark-polisiekantoor by 041 397 6802.

Alternatiewelik kan die Stop Misdaadnommer gebel word by 08600 10111 of die naaste polisiestasie.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word en inbellers het die reg om anoniem te bly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters