5 dae gelede
Cops lê beslag op gun
gevang: Verskeie verdagtes is in hegtenis geneem. Foto ter illustrasie  ~ 

PUIK spanwerk deur die teenbende-eenheid, dié eenheid se opsporingspan en die cops in KwaZakhele het gelei tot die spoedige arres van drie verdagtes en die terugvind van ’n gun.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê omstreeks 09:00 het die lede van die teenbende-eenheid en sy opsporingspan inligting opgevolg van verdagtes in ’n wit Toyota Tazz wat glo in besit was van vuurwapens.

Lede van die KwaZakhele-polisietaakspan het die cops bygestaan. Aanvanklik het die inligting negatiewe resultate opgelewer.

Naidu sê terwyl die cops besig was om die omgewing te verlaat, het hulle twee mans gewaar wat besig was om ’n broodlorrie te beroof.

Toe die boosdoeners die polisievoertuig spot, het hulle op die vlug geslaan.

Die cops het gesien een van die verdagtes het ’n gun in die hand.

Booswigte

Die verdagte het die gun in ’n jaart gegooi voordat hulle in ’n wit Toyota Tazz geklim het wat naby gepark was.

Die bloues kon die booswigte in Ngcangcastraat vastrek toe hulle uit die kar wou klim.

Die vinnige reaksie van die cops het daartoe gelei dat hulle nie uit die voertuig kon klim en vlug nie.

Drie verdagtes is op die plek in hegtenis geneem.

Nader ondersoekwerk het aan die lig gebring die voertuig is in April 2016 in Motherwell gesteel.

Naidu sê ’n .38 Special-rewolwer – waarvan die reeksnommer afgevyl is – is in ’n jaart in Ngxokolo­straat aangetref.

Eiendom

’n Verdagte (27) word aangehou op ’n klag van sameswering om ’n rooftog te pleeg en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Nog ’n verdagte (32) word aangehou op ’n klag van sameswering om ’n rooftog te pleeg, terwyl ’n 28-jarige verdagte aangehou word op klagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en sameswering om ’n rooftog uit te voer.

Hulle verskyn binnekort in die landdroshof.

  • In nog ’n voorval Vrydag was lede van die teenbende-eenheid 23:55 op patrollie in Nkuthazenistraat, KwaNoxolo, toe hulle iemand in die straat sien stap.

Naidu sê toe die polisie langs die 50-jarige man stilhou, het hy sy hande vrywillig in die lug gesteek en op die grond neergeval.

’n .38 Taurus-rewolwer is in sy besit gevind. Die gun is in Januarie 2019 in Walmer as gesteel aangemeld.

Die verdagte word aangehou op ’n klag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Hy verskyn vandag in die Baaise landdroshof.

  • In ’n ander voorval is vyf verdagtes wat van 20 tot 34 jaar oud is, Vrydag omstreeks 04:00 deur cops van Duncan Village in hegtenis geneem.

Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, sê die lede het inligting opgevolg oor ’n rooftog met ’n vuurwapen.

Dit het hulle gelei na die informele nedersetting Mercedes-Benz, waar die bloues ’n grys Golf 5 opgemerk het.

Die polisie het onmiddellik versterkings aangevra van die gemeenskapsdiens-sentrum-voertuig.

Toe die lede die voertuig nader, het die verdagtes in die rigting van Nkandla op die vlug geslaan.

Die polisie kon daarin slaag om die verdagtes vas te trek.

Agtersitplek

Toe die polisielede die voertuig deursoek, het hulle afgekom op drie vuur­wapens – ’n Luger 9 mm Short-pistool, ’n Vektor 9 mm-pistool en ’n kort, swart vuurwapen met 10 patrone.

Die vuurwapen, wat nie geïdentifiseer kon word nie, is op die agtersitplek van die Golf 5 ontdek.

In die bagasiebak het die polisie boonop afgekom op ’n laptop, alkohol in bokse, ’n lugtyd-masjien, ’n amplifier, asook drie brandstof- en oliefilters.

Jamming-toestelle en karsleutels is van die verdagtes afgeneem.

Tonjeni sê hulle kon vasstel die Luger-pistool is gebruik om ’n rooftog in Mdantsane se pleeg.

’n Saak is in 2017 in dié verband in Inyibiba oopgemaak.

Volgens Tonjeni gaan drie verdagtes geprofile word om hulle betrokkenheid by ander sake vas te stel.

Dié voorvalle het in die omgewing van Duncan Village en omliggende gebiede plaasgevind.

Al die verdagtes verskyn binnekort in die hof.

Die ondersoek duur voort en meer klagte kan bygevoeg word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters