14 dae gelede
Cops hou groep dop
Monitor: ’n Sterk polisieteenwoordigheid het gister buite die raadsaal geheers.  ~ Deon Ferreira

DAAR was gister omtrent baie Nyalas en Casspirs buite die Baaise raadsaal.

Die polisie was meer as gereed om te verseker die langverwagte spesiale raadsvergadering vind by die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit plaas.

Gister het al die raadslede vir die vergadering opgedaag ten spyte van vars dreigemente Sondag in die sosiale media.

Die provinsiale polisiekommissaris, lt.gen. Liziwe Ntshinga, sê die polisie wou seker maak die reg geskied op die raadsvergadering.

“Die metro se wetstoepassers, openbare orde-eenheid en ander rolspelers moes die vergadering monitor en verseker daar is geen gewelddadige onderbrekings nie.”

Bloed

Sondag het die volgende boodskap – duidelik op raadslede gemik – vinnig in die sosiale media versprei: “Gangsters van Uitenhage, Motherwell en die Northern areas beloof die bloed gaan tap in eer van Baba Ngidi.

“Enige raadslede wat die vergadering bywoon, moet weet hulle weet waar julle almal en julle uitgebreide families bly, asook waar julle kinders skoolgaan.”

Ngidi was een van die eienaars van ’n klein, middelslag- en mikro-onderneming (SMME) in die Baai wat vanjaar voor ’n slaghuis in Zwide doodgeskiet is.

Plaaslike SMME’s het onder mekaar baklei oor ’n gesamentlike R22 miljoen se kontrakte vir ’n drain cleaning-projek.

Buite die raadsaal het ’n klein groepie SMME-eienaars gesing en gedans.

Gedreig

Daar is gister beweer lede van die SMME’s het raadslede oor die naweek gedreig. Hulle ontken egter dat hulle agter die dreigemente sit.

Leon Oosthuizen, wat namens die groep praat, verduidelik hulle is apolities.

“Wanneer die council meeting sit, chop en change hulle soos hulle wil. Ons kry nie ’n mayor vir die volle vyf jaar nie. Ons sê los die metro soos dit is sodat ons by die projekte kan baat vind.

“Tans kry plaaslike SMME’s nie 30% van ’n kontrak nie. Ons is broodwinners in ons huise,” sê Oosthuizen.

Die polisie het die groep fyn dopgehou en later het hulle maar verdaag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters