2 dae gelede
Cops gryp ou gou ná moord
Kol. Priscilla Naidu  ~ Foto Verskaf

DIE vinnige optrede van die polisie se eenheid teen bendes en cops van die omliggende polisiestasies het vinnig gelei tot die arrestasie van ’n moordverdagte (28).

Die polisie het ook ’n .38-rewolwer gekonfiskeer wat dalk verbind kan word met ’n moord in Gelvandale in die Baai.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie het eergister gereageer op ’n klagte van ’n skietvoorval in die parkeerterrein by ’n inkopiesentrum in Cleary Park in die Baaise Northerns.

Toe die polisie by die toneel aankom, het hulle afgekom op die lyk van William Henry (39). Hy is in die kop geskiet.

Sy sê 12:08 het lede van die eenheid teen bendes in die area na die verdagtes begin soek.

Kort nadat die cops ’n beskrywing van die verdagte gekry het, het die polisie gesien hoe lede van die gemeenskap ’n man te voet in die rigting van Harringtonstraat in Salt Lake jaag.

Die cops het ook die verdagte te voet agternagesit.

Naidu sê die verdagte het oor verskeie heinings gespring, maar is eindelik in ’n skool se yard vasgetrek. Geen vuurwapen is in sy besit gevind nie.

Die 28-jarige verdagte is toe in aanhouding geplaas vir ondervraging.

Kort hierna het lede van die teenbende-eenheid afgekom op ’n .38-rewolwer in ’n erf in Barend­straat, Salt Lake.

Die rewolwer was versteek agter ’n betonblok in die hoek van die yard. Die reeksnommer was afgevyl.

Volgens Naidu het die lede toe ’n man gesien wat besig was om uit ’n yard te stap in Barend­straat.

Hulle het hom deursoek, maar hom egter toe weer laat gaan toe niks in sy besit gevind is nie.

Sy sê die lede het voortgegaan om die yard waar die rewolwer gevind is, te fynkam.

Volgens Naidu gaan die rewolwer weggestuur word vir ballistiese toetse.

Sy sê die speurders gaan ’n moontlike link ondersoek met die moord van eergister en die verdagte wat in hegtenis geneem is.

Speurders van die Gelvandale cop shop ondersoek nou ’n moordsaak.

Enigeen wat die polisie met hulle ondersoek kan help, word gevra om die Gelvandale-polisiestasie te bel by 041 402 2050.

Die Stop Misdaadnommer kan ook gebel word by 086 001 0111. Alternatiewelik kan mense met inligting hulle naaste polisiestasie kontak.

Alle inligting is vertroulik en inbellers het die reg om anoniem te bly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters