22 dae gelede
Cops bekyk drie mans se moorde
Misdaad: Twee mans is die afgelope naweek doodgeskiet en nog een doodgemartel.  ~ TER ILLUSTRASIE

COPS in die Baai krap kop oor twee lyke wat in ’n oop stuk veld aangetref is én ’n man wat doodgemartel is.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Vrydag omstreeks 09:00 is die polisie ontbied nadat twee lyke in ’n oop stuk veld tussen Timothy Valley en Palm Ridge aangetref is.

Albei mans het skietwonde in hul kop en liggaam gehad.

Volgens Naidu het Ruve Bambie (34) en sy tjommie Flagan Stefaans (22) na bewering tussen 22:30 en 23:00 Bambie se huis verlaat om ’n vriend in Timothy Valley te gaan visit.

Aangelê

Sy sê Vrydagoggend is hul lyke ’n meter ver van mekaar af aangetref.

Volgens Naidu is die verdagtes en die omstandighede rondom die voorval in dié stadium nog onbekend.

Twee moorddossiere is aangelê.

  • Intussen het speurders van die Bethelsdorp-polisiestasie nog ’n moorddossier aangelê nadat hulle Vrydag omstreeks 11:00 na Finnis-straat, Uitbreiding 22 in Bethelsdorp, ontbied is.

By die cops se aankoms op die toneel het hulle op die lyk van Dwayne Nell (26) afgekom. Hy het ernstige kopbeserings en ander beserings aan sy lyf gehad.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê daar word beweer ’n groep gemeenskapslede het Nell ná ’n skietvoorval in Timothy Valley agternagesit en hom aangerand.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters