3 maande gelede
Cluster kry nuwe hoof
'n Nuwe clusterhoof is aangestel.  ~ Daniel Born

HULLE gaan hul fokus plaas op die drie brandendste kwessies in die Baaise Northerns – vuurwapens, dwelms en gangsterism.

Die Mountweg-polisiegroepering in die Baai het ’n splinternuwe bevelvoerder aangestel – en hy “mean business”.

Genl.maj. Thembisile Patekile het 32 jaar ervaring in die polisiediens en is reg om misdaad in sy cluster aan te pak.

“Ek is bewus van die verantwoordelikheid, maar ons kan misdaad nie alleen bekamp nie.

“Ons kort die burgers se aktiewe deelname om misdaad te voorkom en te beveg.

“Ons is ook burgers in uniform. Wanneer iemand die polisie aanval of doodmaak, stel hulle eintlik ook ander burgers se lewe in gevaar.”

Patekile sê vuurwapens, dwelms en gangsterism hou met mekaar verband. Dit lei tot huisbrake en die verkoop van gesteelde goedere.

“Ek het nog nooit in my lewe gesien dat ’n druglord sy eie kinders dwelms voer nie. Hoekom laat die mense dan toe dat hulle dwelms aan hul eie kinders verkoop? As gemeenskap moet ons die probleme identifiseer en met oplossings vorendag kom,” het Patekile bygevoeg.

Hy doen ’n beroep op geestelike leiers, straatkomitees en patrolleerders in die gemeenskap om aan te hou met hul werk.

Hy sê die polisie moet kyk na hoekom voormalige gevangenes terugdraai na misdaad wanneer hulle uit die tronk uitkom.

“Ons moet ook fokus op die jeug – ons toekoms. Daar moet ’n voorkomingstrategie toegepas word wat die jeug ná skool en in die skool­vakansies besig sal hou.

“Ons moet hulle oortuig daar is altyd ’n alternatief, eerder as om lede van gangs te word,” meen hy.

Loopbaan

Patekile is ’n plaasjapie wat in ’n plekkie net buite Port St. Johns grootgeword het. Hy het van jongs af besef hy wil graag die eerbare werk van ’n polisieman doen.

Patekile het in 1985 in Uitenhage sy loopbaan by die polisie begin. Daarna is hy eers na Cathcart en toe na Queenstown.

In 1999 was Patekile die bevelvoerder van die Dutywa-polisie­stasie. In 2010 was hy die provin­siale hoof belas met operasionale koördinasie in die Oos-Kaap.

Patekile was ook in 2013 in George ’n cluster-bevelvoerder.

Patekile was daarna ’n provinsiale kommissaris van 2015 tot 2016.

In 2017 was Patekile die cluster-bevelvoerder van Queenstown.

Vanjaar het hy teruggekeer na waar sy loopbaan begin het. Hy is positief dat hy ’n verskil gaan maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters