9 maande gelede
Cele waarsku korrup cops
sterftes: Die kruise simboliseer die tientalle moorde wat feitlik daagliks in die Baaise Northern Areas gepleeg word.Foto’s: deon ferreira  ~ 

DIE Chatty-polisiestasie sal oor 10 maande gebou wees.

Dít het die minister van polisie, Bheki Cele, dié gemeenskap­ van die Baai se Northern Areas gister belowe­.

Cele sê: “Ons wil hê ons kinders moet buite kan speel en dat ons jong vroue veilig op straat moet voel.

“Bendebedrywighede is ’n ou probleem met ’n geskiedenis.

“Dit het ontstaan weens werkloosheid, ’n tekort aan tydverdryfgeriewe vir jong mense en aan ondersteuningstelsels vir hulle.

“As polisie sal ons iets daaromtrent doen. Ons was byvoorbeeld onlangs in die Wes-Kaap suksesvol met die stigting van ’n eenheid teen bendes.

“Môre (vandag) gaan ons ’n polisiestasie op die Kaapse Vlakte inwy. Dit kan hier ook gebeur, maar dit gaan nie oornag gebeur nie.”

Cele sê die spesiale taakspan wat verlede Maandag bekend gestel en ontplooi is, het ook reeds welslae behaal.

vip’s: Christian Martin, Bheki Cele en genl. Khehla Sitole kom aan by die Chatty-gemeenskapsaal.

Hy sê verlede week is 47 pakkies tik, 2 gesteelde selfone, ’n 9 mm-vuur­wapen, ’n rewolwer, 182 pakkies dagga en 2 pakkies kokaïen­ gekonfiskeer.

’n Verdagte is ge­arresteer vir die onwettige besit van ’n vuur­wapen, vier verdagtes vir besit van dwelms, drie vir moord en vyf vir poging tot moord.

Die eenheid werk nou saam met ’n staatsaanklaer wat hom net op dié se sake toespits.

Cele maan ook hy sal nie korrupte polisiebeamptes duld nie.

Hy dreig dat die blou uniform van lede wat uitgevang word, met ’n oranje pakkie vervang sal word.

Cele vra ook dat inwoners beamptes wat wederregtelik optree, moet verkla.

timothy hendricks

Die voorsitter van die Mountweg-polisiecluster se gemeenskapspolisiërings­forum, Timothy Hendricks, sê die gangsters is nie aliens nie, maar kinders van ouers in die gemeenskap.

Hendricks sê: “Ons is gou om die polisie altyd te blame, maar dit begin in ons huise.”

Hulpbronne

Christian Martin het ’n treffende storie vertel om te illustreer dat gangsterism almal­ se probleem is.

Martin meen dis nie net ’n kwessie vir die polisie, howe of nasionale vervolgings­gesag nie.

Hy het Cele gevra om polisie­stasies so gou moontlik te voorsien van hulpbronne soos voertuie en dat ’n eenheid teen bendes ontplooi moet word.

Die LUR vir veiligheid en vervoer in die Oos-Kaap, Weziwe Tikana, het padlangs met die gehoor gepraat: “Daar is misdadigers in ons midde en daardie mis­dadigers is ons kinders, bure, broers.

“Sonder die gemeenskap se ondersteuning sal die polisie­ misluk.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters