6 dae gelede
Briesende pa pak bogkind
kinders: Lihlumelo Nabo het vir sy ma vertel die pa van die meisie links het hom aangerand nadat sy seergekry het terwyl hulle by die skool gespeel het. FOTO VERSKAF  ~ 

’N NEGEJARIGE vrees vir sy lewe nadat hy volgens sy ma by die skool aangerand, die k-woord toegesnou en met die dood gedreig is.

Klein Lihlumelo Nabo van KwaZakhele in die Baai wil nou nie meer skool toe gaan nie.

Die gr. 3-leerder se ma, Princess Nabo (30), vertel die voorsitter van die skool se beheerliggaam (SBL) het haar Woensdag gebel om te vra wat aangaan. Die voorsitter wou nie sy naam en van gee nie.

Hy het Lihlumelo alleen gekry in die rekenaar­kamer van die Primêre Skool Frank Joubert in Schauderville. Dié het op sy arms gelê en huil.

Ná die oproep het Lihlumelo sy ma vertel wat gebeur het.

Volgens die kind het ’n kwaai ouer hom op die skoolgrond te lyf gegaan.

Princess vertel: “Dit was laas Maandag in pouse.

“My kind en ander kinders het met klippe gespeel deur dit in die plasse water te gooi.

“Die een klip het teruggebons en ’n ander leerder teen die kop getref.”

Volgens Princess is die hoof dadelik na daardie (beseerde) kind se huis toe om met die ouer te gaan praat.

Neergegooi

“ ’n Rukkie daarna het die ouer toe by die skool aangekom. Ek weet nie hoe hy geweet het dis my kind nie, maar hy het hom aan die hemp gegryp.

“Hy het my kind opgetel, op die kop geslaan en weer op die grond neergegooi.

“Terwyl hy dit gedoen het, het hy hom lelik gevloek.”

Volgens die ontstelde Princess het Li­hlumelo vertel die man het hom die k-woord genoem en gesê: “I’m going to kill you.”

Princess sê daar is mense wat als gesien het.

“Geen wonder my kind wou daarna nie skool toe gaan nie.

“Wat my kwaadmaak en skok, is die feit dat die skool en die hoof my glad nie laat weet het van die voorval nie.

“Hulle maak nou verskonings en sê hulle kon my nie op my foon bereik nie.

“Maar hoekom het die hoof dan nie ’n brief huis toe gestuur nie? As dit nie was vir die SBL-voorsitter nie, sou ek seker nou nog nie daarvan geweet het nie.”

Princess het intussen by die polisie­stasie in Gelvandale ’n saak van aanranding teen die ouer geopen.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n woordvoerder vir die polisie, het beloof om vandag ondersoek in te stel na die voorval.

Mervyn January, hoof van die Primêre Skool Frank Joubert, sê hy gaan nie nou al kommentaar lewer op die saak nie.

“Die ouers het nog nie bymekaargekom nie.

“Hulle behoort in die week by­mekaar te kom.

“Daarna sal ek kommentaar lewer.”

Princess sê sy en die ouer moes verlede week by die skool vergader het om te praat, maar hy het nie op­gedaag nie.

Die ouer het vir Princess ’n brief geskryf om jammer te sê oor wat gebeur het, maar sy sal die verskoning eers aanvaar as dit in persoon gedoen word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters