9 maande gelede
Brand vat als, sy kat inkluis
as: Saterdagaand het Leonard Snyers van Helenvale se shack heeltemal tot op die grond gebrand.  ~ 
as: Saterdagaand het Leonard Snyers van Helenvale se shack heeltemal tot op die grond gebrand.

ALLES waarvoor hy sy hele lewe lank gewerk het en sy kat, Ginger, is weg.

Die shack van Leonard Snyers (49) van Hartebeesstraat in die Gaat in Helenvale het Saterdagaand tot op die grond gebrand.

Dit is onseker wat die oorsaak was van die brand.

“Ek het alles toegesluit, want ek was op pad na ’n party toe.

“My kat wou nie uitkom nie, so ek het hom ook in die shack toegemaak,” onthou Snyers.

lewe: Leonard Snyers se daggaplantjies is al wat die vuur oorleef het. Foto’s: theo jeptha

Ná so ’n uur en ’n half by die party het Snyers ’n boodskap gekry van sy vriend wat sê sy woning is besig om af te brand.

Snyers het dadelik huis toe gejaag. Toe hy daar kom, het helpers al die laaste bietjie van die vuur geblus.

Alles was tot op die grond verbrand, insluitend sy boek- en muntstukversameling.

Al wat die vuur oorleef het, is sy daggaplantjies.

“Ek het baie geskok en numb gevoel en het maar by ’n buurman gaan slaap.

gered: Magdaleen Snyers het haar kleinkind, Allison Moses, uitgedra voordat die vuur by hulle kon uitkom.

“Vanoggend toe ek my wou was en tande borsel, het ek besef daar is niks meer oor nie.

“Ek het 40 jaar hier gebly,” sê ’n verslae Snyers.

Ginger is vandat die vuur uitgebreek het, vermis en Snyers vermoed hy het in die brand omgekom.

Magdaleen Snyers (66), Leonard se ma, woon in die hoofhuis. Die agterkamer van die huis het ook uitgebrand.

“Ek was besig om die kleintjies se tekkies te skrop toe die krag ewe skielik afgeslaan het.

Leonard Snyers

“Ek het net die rooi vlamme daar agter gesien en my kleinkind, Allison Moses (4), uit haar kamer gegryp waar sy lê en slaap het.

“Ek is verlig dat niemand seergekry het nie,” sê ’n emosionele Magdaleen.

Magdaleen en Leonard wil die gemeenskap van die Gaat bedank vir hulle hulp om die vuur te blus, want anders kon dit baie erger gewees het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters