10 maande gelede
Brand eis ma: Seun kom om
verwoes: Dié huis in Elkstraat in Helenvale het Donderdag afgebrand. Twee mense se lewe is geëis.Foto’s: theo jeptha  ~ 

BINNE twee dae nadat hy sy eie lewe gewaag het om sy ma van ’n branddood te probeer red, is hy ook oorlede.

Diano Brander (27) van Elkstraat in Helenvale in die Baaise noordelike gebiede het Saterdag aan sy ernstige brandwonde beswyk.

Hy is Donderdag in die hospitaal opgeneem.

Sy ma, Desireé (49), het Donderdag in ’n huisbrand omgekom.

Die brand het omstreeks 23:00 uitgebreek en die vlamme het alles in die huis verslind.

Die bure het almal gehelp om die vlamme te blus met emmers vol water.

Mense het gehoor hoe Desireé skree dat hulle vir haar moet oopmaak omdat dit brand, maar daarna het sy stil geraak.

tot siens: Ursula Schiehling, Diano Brander se groottannie, sê hy was respekvol en het gereeld met haar gesels.

Diano en sy broer, Leroy (29), het albei die huis binnegegaan in ’n poging om hulle ma te red en het ernstige brandwonde opgedoen. Norman Abdul, ’n buurman, het met ’n nat kombers om sy lyf ook die vlamme getrotseer. Hy het dit reggekry om die burglar bars by die kamervenster te verwyder en só toegang te verkry tot die huis.

Desireé het nog geleef toe Abdul haar uit die vuur dra. Sy is egter op die toneel dood verklaar deur ambulanspersoneel.

Gerald Ambraal, Diano se oom, sê die hele familie betreur sy dood.

Ambraal was nog Vrydag by die Dora Nginza-hospitaal om Diano en Leroy te besoek.

“Diano het heeltyd gesê hy smaak rook. Hy was in pyn en sy liggaam het 100% brandwonde opgedoen. Hy kon nog praat, maar die nurse het gesê dit lyk nie goed nie.”

verlies: Gerald Ambraal sê Diano Brander se lyding is finaal verby.

Ursula Schiehling, Diano se groottannie, sê sy en Diano het gereeld gesels – oor enigiets. Sy sê Diano was ’n lieflike kind wat respek vir ander gehad het. Hy het volgens haar baie vriende gehad.

“Die seer is daar, maar ek bid vir die Here om vir my krag te gee.”

Ambraal onthou sy susterskind as iemand met ’n helpende hand. Hy het altyd ingestem as iemand hom iewers heen gestuur het.

“Waar hy nou is, is daar nie meer pyn nie, want hy het gely. Hy het sy lewe ge-sacri- fice vir sy ma, maar ek glo hulle twee is nou saam.”

Leroy sterk nog aan in die hospitaal.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters