15 dae gelede
Brand eis baba
verslae: Wayne Heemro is verslae deur sy kind se brand-dood.  ~ 

SY HET net ’n kort rukkie gegil, maar toe stil geraak voordat die vlamme haar heeltemal verswelg het.

’n Babameisie (2) van Helen­vale in die Baaise Northerns­ het Saterdagaand grusaam gesterf toe haar ouers se shack agter in die jaart vlamgevat het.

Eintlik wou Wayne Heemro (44) en Sharon Brown (42) net hulle kinders met ’n warm bord kos bederf.

Net voor 20:00 het hulle twee na die buurman se huis geloop om daar hoender en tjips te gaan koop.

Binne daardie paar minute het hulle lewens vir altyd verander.

Boonop het die vlamme al hulle besittings uitgebrand.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

“Die Gelvandale-polisie het ’n geregtelike doods­ondersoek geopen nadat ’n tweejarige meisie in ’n shack in Kobusweg doodgebrand het.

“Luidens die polisie se inligting het die ouers van Shannon Brown haar en haar boetie daar gelos en winkel toe gegaan.

“Terwyl hulle daar was, het hulle gesien die shack brand en het teruggehardloop,” sê Naidu.

Sy sê voorts die boetie, Jenovan (7), is gered. Hy het brandwonde aan die voete opgedoen. Maar Shannon is dood.

“Daar word vermoed ’n kers het omgeval en die brand begin,” sê Naidu.

Maar Shannon se ouers sê daar was geen aangesteekte kerse toe hulle daar uit is nie.

“Ons het nog na ons geld gekyk en besluit om kos te koop. Die kinders het geslaap en Shannon was onder die duvet toegedraai.

“Ons was besig om te wag vir die kos, toe ons sien die plek brand. Ons het dadelik teruggehardloop,” sê Heemro.

Op die toneel het hulle gesien hoe die kinders se oom Gradwell van der Merwe Jenovan uit die vlamme red.

Jenovan is gebreklik en sy ouers moet hom voer en help loop.

Maar Van der Merwe kon nie vir Shannon onder die duvet kry nie.

Dis tóé dat Sharon self in die vlamme inhardloop en na haar jongste baby soek.

“Ek het op die vlamme gelê, maar die rook het alles donker gemaak. Ek kon haar net nie kry nie. Sy was stil gewees daai tyd.

“Die vlamme het my nek, kop en arms gebrand,” sê Sharon, wat steeds verbande om dié brandwonde het.

Die gemeenskap het met emmers water die vlamme probeer blus totdat die brandweer opgedaag het.

Bystaan

Nadat ’n ambulans Sharon by die hospitaal behandel en ’n dressing op haar wonde gesit het, het die dokter gesê hulle moet berading kry.

Heemro sê hy werk by ’n ondernemer, wat hulle sal kan bystaan deur die moeilike tyd.

“Ek gaan maar môre alleen die reëlings tref en polisiestasie toe gaan vir die uitkenning.

“My vrou sal dit nie kan hanteer nie, en ek wil haar nie óók verloor nie.”

Dit gaan moeilik wees, aangesien Shannon volgens haar ouers onherkenbaar verbrand is.

Maar haar ouers gaan probeer om die mooi dinge te onthou.

“Sy was baie lief vir speel en dans – sommer op enige musiek. Sy het altyd agter in die jaart met ons hond, Cheeko, gespeel.

“Baiekeer het sy gesê: ‘Mamma, gee my ’n drukkie.’ Of ‘Mamma, soen my,’ ” vertel Sharon onder trane.

“Altyd as ek geloop het, het ek haar saamgevat en vir haar tjips gekoop. Sy was baie lief daarvoor.

“Ons gaan haar glimlag mis,” voeg Heemro by.

Begrawe

Shannon sal Donderdag in die Bloemendal-begraafplaas begrawe word.

Sy gaan in dieselfde graf begrawe word as haar tannie, Linda Heemro, wat twee weke­ gelede­ aan kanker gesterf het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
5 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters