16 dae gelede
Botsings eis 2 oor naweek
Twee mense het die afgelope naweek in ongelukke gesterf.  ~ Foto ter Illustrasie

’N MAN van Uitbreiding 21 in die Baaise Northerns is die naweek op slag dood in ’n motorongeluk in Standfordweg. Die slagoffer is Jason Michaels (39).

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Michaels het Saterdag omstreeks 14:00 met sy bakkie in die rigting van Cleary Park gery, terwyl die bestuurder van ’n Volkswagen Jetta in die teenoor­gestelde rigting gery het.

Sy sê in dié stadium is dit nog nie duidelik presies hoe die ongeluk gebeur het nie.

Volgens Naidu is die egpaar wat in die Jetta gery het, ernstig in die ongeluk beseer.

Hulle is in die hospitaal opgeneem.

Die bloues van die Bethelsdorp-polisiestasie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

In nog ’n voorval dié naweek het die finansiële hoofbeampte van die Oos-Kaapse departement van vervoer­, Denzel Skweyiya, ook in ’n motorongeluk gesterf.

Khuselwa Rantjie, die woordvoerder van die departement, sê die ongeluk het Vrydag omstreeks 18:45 op die N2-snelweg tussen King William’s Town en Mdantsane gebeur toe sy Toyota­-sedan in ’n ongeluk met ’n BMW betrokke was.

Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.

Die bestuurder van die BMW is net lig beseer.

Skweyiya het 20 jaar gelede by die departement begin werk as die eerste finansiële direkteur.

Gebede

Hy het later tot die posisie van finansiële hoofbeampte uitgestyg.

Skweyiya was tot dusver die langs dienende finansiële hoofbeampte in die Oos-Kaapse provinsiale administrasie.

Mzilindile Mafani, hoof van die departement, sê hulle gedagtes en gebede gaan uit na Skweyiya se vrou, kinders en uitgebreide familie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters