Verlede maand
Borde help stad water spaar
INLIGTING: Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit hou sy inwoners op hoogte van hulle waterverbruik met die hulp van billboards. FOTO verskaf  ~ 

DIE Nelson Mandelabaai- munisipaliteit het besluit om inwoners op hoogte te hou van hulle maandelikse waterverbruik deur groot billboards reg oor die Metro op te rig.

Praktiese raad oor hoe om verbruik te verminder, sal ook op die advertensieborde aangedui word.

Aangesien die advertensieborde maandeliks opgedateer gaan word, sal inwoners die nuutste waterverbruikspatrone en -vlakke in hulle wyke kan sien.

Die hoop is dat dié inligting inwoners sal aanspoor om die volgende maand nog meer water te bespaar.

Masixole Zinto, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur, ingenieurswese en energie, sê die projek is ’n belangrike inisiatief om inwoners oor hulle verbruik in te lig en hulle bydrae tot hulle totale verbruik as ’n stad aan te dui.

Samewerking

Zinto sê: “Ons wil hê alle inwoners moet voortgaan met hulle pogings om water te bespaar, aangesien dit ’n gedeelde verantwoordelikheid is.

“Ons wil ’n kultuur van samewerking oor waterbe­sparings­metodes in wyke aanmoedig.

“Die munisipaliteit kan nooit op sy eie die stryd teen die droogte en die watertekort wen nie. Gemeenskaps­lede moet, net daar waar hulle in die wyke bly, ook ’n verskil maak.

“En hulle pogings moenie tuis eindig nie: Hulle moet ook hulle waterbesparingsmetodes na hulle werkplekke, wat nie noodwendig is waar hulle huise is nie, neem.”

Die advertensieborde sal by kruisings en groot toegangspaaie na verskillende wyke geplaas word.

Dit is die nuutste van ’n aantal waterbesparende inisiatiewe deur die munisipaliteit om te help om die waterkrisis in die Nelson Mandelabaai die hoof te bied.

Damvlakke is op hulle laagste nóg – net bo 18%.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ook nie enige beduidende reënval in die volgende ses maande in ons opvanggebiede nie.

Volg Roslyn Klaasen op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters