19 dae gelede
Boere steek hand in sak vir centre
GEMEENSKAP WERK SAAM: Die ou Eskom-gebou in Patensie is omskep in ’n afsonderingsentrum vir Covid-19-pasiënte.  ~ 

’N MOONTLIKE toename in die getal Covid-19-gevalle en die meer as 3 000 seisoenwerkers wat onlangs op die Gamtoosvallei toegesak het, het die gemeenskap genoop om ’n isolasiesentrum in Patensie in te rig.

Die ou, verwaarloosde Eskom-gebou gaan vir hierdie doel ingespan word nadat die kragreus ná onderhandelinge die groen lig daarvoor gegee het.

Die rolspelers wat by die inisiatief betrokke is, is Amos Mabukane (wyksraadslid in Patensie), wykskomiteelede, die boeregemeenskap in Patensie­, Hankey en Loerie, mediese praktisyns in die onderskeie gemeenskappe, onder wie dr. Adi-Mari Schoeman, en die Kouga-munisipaliteit.

Schoeman, ’n dokter van Patensie, sê elke jaar stroom sowat 3 500 seisoenwerkers na die Gamtoosvallei om te help met die pluk en verpakking van vrugte.

Volgens haar woon tot agt van die seisoenwerkers in beknopte tweevertrekhuisies.

Schoeman sê as gevolg van dié situasie is kommer uitgespreek oor hoe werkers hulle in dié klein woonkwartiere sou kon afsonder as hulle Covid-19 opdoen.

Versprei

Sy sê net verlede week is ’n vrou positief getoets. Haar man, met wie sy ’n huis deel, is negatief getoets.

Schoeman sê dis ’n bron van kommer omdat die siekte op dié manier verder kan versprei.

Volgens haar is ’n meeting gereël met die boeregemeenskap oor hoe hulle betrokke kan wees by die oprigting van ’n isolasiesentrum omdat die behoefte daarvoor bestaan.

Die boere het onmiddellik ingestem om hul support te gee.

Mabukane sê hy het die ou Eskom-gebou in Patensie geïdentifiseer as ’n moontlike Covid-19-isolasiesentrum.

Volgens hom staan die gebou al die afgelope 16 jaar leeg.

Mabukane sê daar is boonop baie ruimte vir moontlike uitbreiding as die getal Covid-19-gevalle toeneem.

Volgens hom gaan die fasiliteit baie nuttig wees.

Nadat Eskom die groen lig gegee het, het opknappingswerk aan die gebou dadelik begin.

Schoeman sê op haar beurt die sentrum gaan toegerus wees met onder meer WiFi, telefone en grootskerm-televisies. Sy sê die hele gemeenskap is by die inisiatief betrokke.

Volgens haar het van die boervroue ingestem om te sorg vir die pasiënte se etes. Ander vroue het ingestem om met die laundry te help.

Sy sê sowat vyf dokters gaan in die sentrum werk. Die boere, sê sy, het ook geld gegee vir personal protective equipment.

Volgens haar is daar in hierdie stadium altesame 26 beddens in die fasiliteit.

Schoeman sê tans is daar omtrent 30 positiewe Covid-19-gevalle in Loerie, Hankey en Patensie.

Mabukane sê opknappingswerk aan die gebou het sowat R1 miljoen gekos.

Volgens hom kom ál die geld uit die boere se sak.

Horatio Hendricks, mayor van die Kouga-munisipaliteit, sê hy is baie beïndruk met die gehalte van die fasiliteit.

Donasies

Volgens hom gaan die munisipaliteit sy ondersteuning gee waar nodig.

Hendricks sê as die getal Covid-19-gevalle toeneem, gaan nog mediese supplies egter benodig word.

Volgens hom gaan hulle ook staatmaak op donasies.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, het teen druktyd nog nie op Son se navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters