14 dae gelede
Bobani steeds mayor – sover
Mongameli Bobani  ~ Deon Ferreira

DRIE partye in die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit het hulle minds gou-gou gechange oor die verwydering van die burgemeester, Mongameli Bobani (UDM).

Dit was gister op ’n spesiale raadsvergadering, waarin geen vordering gemaak is nie.

Die partye is die ANC, AIC en EFF. Party raadslede sê dis omdat vrees onder hulle lede heers.

Dis nadat verskeie raads­lede Sondag en gister na bewering gedreig is dat hulle of familielede uitgehaal sal word en dat hulle huise de­stroy sal word.

Die vergadering het 10:00 begin, maar kort-kort is ’n rede gevind daarvoor dat dit moet verdaag.

Dan bespreek die partye se hoofswepe iets, dan loop partylede sommer uit.

Teen 15:00 is geen punt op die agenda nog gehanteer nie.

Van die punte was ’n mosie van wantroue in Bobani en sy verwydering, en die aanstelling van ’n hoof- finan­siële beampte en uitvoerende direkteure.

Maar ná onderlinge vergaderings en die beweerde dreigemente het dinge verander.

Die ANC se hoofsweep, Bicks Ndoni, het aangekondig: “Drie partye wat mnr. Bobani se verwydering­ geëis het, onttrek hulle daaraan.”

Ndoni het egter geen rede daarvoor gegee nie.

’n Paar weke gelede is in ’n petisie versoek dat ’n dringende raadsvergadering gehou moet word om onder meer die mosie van wantroue te hanteer.

Van die 120 raadslede het 117 dit geteken.

Bobani sou waarskynlik verwyder gewees het as dit nie vir die dreigemente was nie, meen party raadslede.

Die speaker, Buyelwa Mafaya, het later regsadvies aangevra.

Dis omdat die raad ná die onttrekking van die partye met minder as 60 stemme plus 1 stem gelaat is om ’n kworum te bereik.

Teen 15:44 moes die publiek en media die raadsaal verlaat sodat raadslede die punte op die groen agenda kon bespreek.

Teen druktyd was dit nog nie bekend wanneer die mosie van wantroue teen Bobani uiteindelik gehanteer sal word nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters