2 maande gelede
Bobani maak op met ‘rassis’
Gretchen November  ~ 
vrede: Mongameli Bobani hou Gretchen November se hand styf vas terwyl hulle Vrydag praat.
vergifnis: Bobani gee ’n huilende November ’n drukkie op sy besoek.
GESKENK: Die nuwe mayor in die Baai, Mongameli Bobani, gee koekies en blomme vir Gretchen November nadat sy vir hom jammer gesê het. Foto’s: deon ferreira
Gretchen November

DIE vrou wat die pas aangestelde mayor in Nelson Mandelabaai ’n “baboon” genoem het, het Vrydag ’n besoek van Mongameli Bobani self gekry.

Met ’n handvol blomme en koekies het Bobani by Gretchen November (42) se huis in Gelvandale in die Baaise noordelike gebiede ingestap.

Hy het haar reeds vergewe, het hy gesê toe hy haar ’n drukkie gee.

November het Woensdag kommentaar gelewer op ’n groep op Facebook.

Volgens haar het twee wit mans in die groep ook gesê Bobani is ’n baboon.

“Ek het toe gesê: ‘Baboon, Bobani, doesn’t matter. As long as he doesn’t turn PE into a circus’” vertel sy.

November bars in trane uit en vertel hoe die dokter haar Donderdagaand vier inspuitings moes gee om haar te kalmeer.

Sy het intussen die post verwyder, maar die skade is reeds gedoen.

Dié post het viral gegaan en kort voor lank het die dreigemente begin.

Die dreigemente het haar so bang gemaak dat sy nog nie een keer uit haar huis gegaan het vandat die voorval plaasgevind het nie.

November sê sy vermoed mense het die plek waar sy voorheen gewerk het, gebel en dis waar mense haar adres, selfoonnommer en huisnommer in die hande gekry het.

Sedertdien is haar lewe hel.

“My 16-jarige dogter was alleen by die huis toe ’n oproep deurgekom het.

“ ’n Man het vir haar gesê sy gaan gerape word.

“My kind is in ’n toestand en het glad nie skool toe gegaan nie,” vertel November.

“My sewejarige dogter is net so bang. Haar juffrou sê vir ons sy is baie traumatised in die klas en wil haar net die hele tyd vashou.

“Ek kry elke oggend boodskappe van nommers wat ek nie ken nie. In die een sê ’n man van die EFF dat hulle my gaan laat tronk toe stuur vir wat ek gesê het.

“Ek is glad nie ’n rassis nie. Ek is altyd die mens wat ander aanmoedig om op te staan teen racism en child abuse.

“Ek is lelike name genoem, insluitend ’n ‘racist bitch’. Ek het ook op Facebook jammer gesê deur mense te inbox.”

November sê sy het nie die polisie genader oor die dreigemente nie.

“Ek kan nie regverdig wat ek gesê het nie en is spyt oor wat ek gesê het. Maar los my kinders hier uit.”

Sy het Vrydag aan Bobani gesê: “Mnr. Bobani, dit was nie my bedoeling om dit te doen nie. Vergewe my, asseblief.”

Bobani sê toe: “Dié stad is genoem na Tata Nelson Mandela en ons vier sy 100ste jaar.

“Hy het altyd gesê dat ons moet vergewe en vergeet.

“Dit was ’n menslike fout en ek aanvaar jou verskoning.

“Ons is nou vriende.”

Bobani doen ook ’n beroep op mense om die vrou nie verder te dreig nie.

November sê daar is ’n paar ANC-lede wat intussen haar verskoning aanvaar het, en hulle stuur darem vir haar positiewe boodskappe.

Sy wonder ook hoekom niemand in die moeilikheid gekom het toe hulle Athol Trollip, die voormalige burgemeester, lelike name genoem het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters