4 dae gelede
Bobani is nog eerste burger
HIER OM TE BLY: Mongameli Bobani oorleef weer ’n mosie van wantroue in die raadsaal.Foto’s: DEON FERREIRA  ~ 

WEER eens het Mongameli Bobani ’n wantroue-mosie teen hom op ’n raadsvergadering oorleef.

Hy bly die mayor van die Nelson Mandelabaai-metro. Dinsdag het ’n vurige atmosfeer in die Nangoza Jebe-saal in New Brighton onder raadslede geheers.

Kommentaar tussen politici van verskeie partye het gesorg dat die items op die agenda eers ná ’n uur en ’n half op die vergadering gehanteer is.

Die raadsvergadering het eers gister ná 03:00 ten einde geloop nadat dit Dinsdag 10:00 begin het.

Die ACDP se mosie van wantroue teen Bobani, wat die DA gesekondeer het, het weer eens misluk toe die meeste van die lede daarteen gestem het.

Totdat die Baaise hooggeregshof besluit oor die lidmaatskap-status van drie DA-raadslede wat op vorige raadsvergaderings teen die party gedraai het, sal die DA nie die syfers hê om dié tipe mosie te laat slaag nie.

Die drie raadslede is Neville Higgins, Trevor Louw en Victor Manyati.

In die meeste van die mosies wat ter tafel gelê is, het dié drie saam met die ANC, UF, AIC en UDM gestem. Die EFF het af en toe ingegee.

Ingemeng

Die mosie van wantroue teen Bobani het te doen met bewerings van korrupsie.

Die DA en ACDP voer aan Bobani het by die munisipale administrasie ingemeng.

Die Valke is volgens The Herald besig met ’n ondersoek en het in Oktober Bobani se kantoor binnegegaan en rekenaars en dokumente gekonfiskeer.

Die DA en ACDP is van plan om ook strafregtelike klagte teen Bobani by die polisie te lê.

Gisteroggend vroeg het die raad amptelik gestem vir die aanstelling van die waarnemende stadsbestuurder, Peter Neilson. Dit is die derde stadsbestuurder in ’n kort tydperk.

Ander besluite oor IPTS-gelde, SMME’s en die reëls en etiese komitee van die Metro is op die raadsitting geneem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters