28 dae gelede
Bloed vloei ná rooftog
leidrade: Die polisie stel ondersoek in by die Mazda.  ~ 

’N BOOSWIG is doodgeskiet en twee van sy makkers gewond kort nadat hulle betrokke was in ’n wilde jaagtog.

’n Oor-en-weer skietery met die polisie het gevolg.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê die drama het Saterdag omstreeks 10:20 begin toe drie verdagtes ’n winkel in Endstraat, Khaya­mnandi in Despatch­, binnegegaan het.

Sy sê een van die verdagtes was met ’n vuurwapen gewapen. Hulle het hulself gehelp tot groceries, vleis en ’n klein bedrag geld.

Toe die booswigte by die winkel uitgaan, is ’n skoot afgevuur. Niemand is egter beseer nie.

Volgens Naidu het die boosdoeners op die vlug geslaan in ’n Mazda.

Sy sê die voertuig se registrasienommer is onmiddellik gesirkuleer. Cops in die omliggende areas is laat weet om op die uitkyk te wees vir die voertuig.

Lede van die Baaise lug­vleueltak het onmiddellik gereageer deur te haas na die hoek van Nooitgedacht- en Uitenhageweg in Kleinskool.

Toe cops die voertuig spot, het hulle dit onmiddellik agternagesit.

Dis toe dat die verdagtes op die polisie losgebrand het. Die cops het toe ook op hulle geskiet.

Kort hierna het vier verdagtes uit die bewegende voertuig gespring en begin hardloop. Die bewegende voertuig het toe gebots teen ’n Corsa-sedan.

Een van die verdagtes (31) het – kort nadat hy uit die voertuig gespring het – geval en is op die toneel dood.

Die polisie het beslag gelê op ’n gas-gun, wat in die oorledene se besit gevind is, asook ’n 9 mm-pistool, wat in die motor gevind is.

Intussen het cops die ander drie verdagtes te voet agternagesit, terwyl die verdagtes in daardie stadium steeds op die polisie geskiet het.

Cops van Motherwell, Bethels­dorp en Mountweg-polisie se highway patrol is ontbied as back-up in die soektog.

Lede van die lugvleueltak kon daarin slaag om twee verdagtes in hegtenis te neem. Albei het skietwonde opgedoen.

Die 31-jarige verdagte het ’n skietwond in die regterbeen opgedoen, terwyl die 25-jarige verdagte in die bors en arm gewond is.

Die derde verdagte het ontsnap.

Dossiere

Die verdagtes word aangehou op aanklagte van poging tot moord, die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, die onwettige besit­ van ’n vuurwapen en ammunisie en op ’n aanklag wat verband hou met roekelose­ en/of nalatige bestuur.

Met betrekking tot die oorledene en die gewonde verdagtes is dossiere van moord en poging tot moord aangelê.

Van die gesteelde items is in die voertuig gevind. Die voertuig is nie vroeër as gesteel aangemeld nie.

Die verdagtes verskyn binnekort in die hof.

Genl.maj. Thembisile Patekile, Mountweg-polisie se gebiedsbevelvoerder, het sy waardering uitgespreek teenoor die lede wat vinnig opgetree en die verdagtes vasgetrek het.

Patekile het misdadigers gewaarsku dat die polisie op hulle hakke is en dat hulle gevind sal word waar hulle ook al wegkruip.

Hy sê die ontplooiing van bykomende lede van onder meer die gespesialiseerde eenhede vermeerder die polisie se sigbaarheid en mannekrag. Om dié rede kan onmiddellik op verdagtes toegeslaan word.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters