3 maande gelede
Bib-week: Skrywer skenk boeke
vrygewig:Godfrey ‘die profeet’ Banor het 30 eksem­plare van sy boek geskenk.Foto: deon ferreira  ~ 

KORT op die hakke van Biblio­teekweek in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit (NMBM) het “die profeet” van Booysenpark hope boeke geskenk.

Godfrey Banor van die Baaise noordelike gebiede het onlangs sowat 30 eksemplare van sy boek genaamd Die Wedergeboorte deur Middel van Gees geskenk.

Dié boek het verlede jaar verskyn.

Banor het besluit om kort voor Paasfees sy sieninge en insigte te deel met dié wat hy dink dit nodig het.

“Ek het verlede week 15 eksemplare geskenk aan biblioteke in die noordelike gebiede en 15 aan die St. Albans­gevangenis. Ek glo dit sal mense kan help,” sê Banor.

Biblioteke in Gelvandale, Chatty, Booysenpark, Korsten en Weseinde het hieruit voordeel getrek.

Banor het sy bynaam gekry nadat hy glo in verskeie gevalle al openbarings gekry het kort voordat een van sy naastes oorlede is. Hy kan glo ook sien wanneer iemand ’n vuil hart het wat vol is van die lelike dinge in die wêreld.

Aktiviste

Banor sê hy het die boek geskryf nadat hy vyf open­barings ervaar het, insluitend openbarings van denkers en leiers van die verlede en oor watter impak hulle op die mensdom gehad het.

In dié boek praat Banor oor ikone soos oudpres. Nelson Mandela en ander aktiviste soos Oliver Tambo, Nkosi Johnson en Martin Luther King.

’n Sakeman het Banor gehelp met die koste om die boek te laat druk.

“Dis nie enigiemand wat dinge kan sien nie; dit is net dié wat rein van hart is wat Hom sal sien,” sê Banor.

Die boek handel oor die reiniging van die siel en bestaan uit drie dele.

“Die eerste deel is geestelik van aard. Daarna handel dit oor die natuurlike kant en die openbaringe wat ek gehad het. Laastens praat ek oor die werklikheid en die Man wat die pad vir ons gestap het,” verduidelik Banor.

  • Intussen het Athol Trollip, burgemeester van Nelson Mandelabaai, die Elukhanyi­sweni-biblioteek in Kwa­Nobuhle gister besoek.

Trollip het stories aan skoliere voorgelees en gesels met mense wat nie goed sien nie. Hy het ouers gevra om hul kinders aan te moedig om biblioteek toe te gaan.

Trollip het onderneem om die bestaande geriewe te verbeter en nog biblioteke te laat bou waar dit nodig is.

In die Baai vind Biblioteekweek van Vrydag 16 tot Vrydag 23 Maart plaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters