11 dae gelede
Betoog: Kids self in aksie
protesaksie: Kinders staan op oor hulle moeg is daarvan om sonder huise, water of krag klaar te kom.Foto’s: theo jephta  ~ 

KINDERS so jonk as ses het Vrydag self besluit om bande nader te rol en aan die brand te steek.

Dié kinders en jeugdiges van die informele nedersetting McCarthy in Uitenhage het hulle ouers se voorbeeld gevolg en betoog oor die tekort aan huise, toilette, water en krag.

Die laaste paar weke was daar gereelde protesaksie by dié informele nedersetting omdat inwoners voel hulle het die reg tot dienslewering.

Mense moet in die bosse hulle self verlig, vuur maak vir hitte en kos kook, in die donker oor die weg kom en ure lank staan in tou vir water by die enigste kraan.

“Ons is moeg daarvoor om in die bosse te ‘aah’.

“Ons huise is vol water en ons moet dit met emmers uitskep,” sê ’n 14-jarige seun.

Volgens hom is drie mense al dood van die koue. Hy sê hulle word beroof in die donker.

“Mense kom in ons huise in en steek ons.”

opstand: Kinders van die informele nedersetting McCarthy gee hulle misnoeë te kenne oor hulle omstandighede.
games: Kinders geniet hul gate uit terwyl hulle in die strate van Uitenhage betoog.

’n Seun (13) sê behalwe dat hulle huise verinneweer word deur die weersomstandighede, word planke ook van hulle huise afgesteel. “Ek het groot geraak op dié vlak.

“Ek is moeg gek*k in die bos. Ons is moeg om ver te loop vir water. Die tap is al afgesteel.

“Die mense op die vlak het elkeen R5 bygesit om ’n nuwe een te gaan koop.”

Nog ’n jong seun (13) vertel baie van die kinders kom honger van die skool af. “As my ma kos maak, dan maak sy dit in ’n koffieblik op die vuur.

“Baie Sondae het ons nie kos nie en ons lewe dan op tee. Wanneer ek moet huiswerk doen, moet ek altyd gaan soek vir ’n kers.”

Volgens die kinders het hulle al gesien hoe ’n oom voor almal beroof is, maar niemand kon iets daaraan doen nie omdat hulle bang was hulle kry seer.

Hulle beweer ook die ambulanse vat lank om uit te kom, dis te sê as hulle enigsins uitkom.

Van Rooyenlaan, Cosgrove-­ en Ronnie Luytstraat is vol klippe en brandende voorwerpe gepak.

Toe Son op die toneel was, het ’n polisiekar in die verte stadig verby gery, maar weer oor die bult verdwyn.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters