6 dae gelede
Betogers staan nie terug
Dit het klippe in Missionweg gereën ten spyte van die corona-virus.  ~ Mkhuseli Sizani

MENSE wat nou nog wil betoog, is óf baie dapper óf diep dom.

Covid-19 is regoor die wêreld almal se kodewoord, maar plakkers van Westville, Joe Slovo en Bayland in Port Elizabeth was min gespin daaroor of hulle die gevreesde virus kan opdoen toe hulle gister met ’n gewelddadige shutdown-aksie begin het.

Oproepe deur die nasionale regering om nie byeenkomste te hou waar daar meer as 100 mense betrokke is nie, is totaal en al geïgnoreer.

In ’n provinsie soos die Oos-Kaap waar die lewering van gesondheidsdienste klaar nie van die gesondste is nie, het groot groepe inwoners paaie met brandende tyres, klippe en selfs stormwaterpype afgesper.

Hulle wil elektrisiteit hê, is die eis.

Beloof

En so vroeg as vieruur die oggend het inwoners begin om Missionweg af te sper, motoriste met klippe te bestook, asook twee busse van die Algoa-busdiens uit te brand.

Terwyl sommige inwoners van die Joe Slovo- en Bayland-plakkerskamp besig was om die R75-Uitenhage-pad te versper, het ander weer ’n Eagle Liner-bus aan die brand gesteek.

Inwoners sê die minister van menslike nedersettings, Nomaindia Mfeketo, en plaaslike ANC PUK-lede het hulle voor laas jaar se verkiesing dienslewering beloof.

Sipho Ntso­ndwa, ’n gemeenskapsleier van Westville, sê hulle het besluit om met ander ontevrede gemeenskappe kragte saam te snoer omdat hulle dieselfde probleme het.

“Ná die verkiesing is daar elektrisiteitspale opgesit wat ons hoop gegee het.

“Maar die projek is in Augustus verlede jaar stopgesit omdat die munisipaliteit nie geld het om die kontrakteur te betaal nie.

“Ons is bewus van die corona-virus, maar dit (die virus) is net hier vir ’n kort tydperk, terwyl ons al lank onder gevaarlike omstandighede woon.

“Ons is 1 625 shacks wat nie elektrisiteit het nie en sommige van ons inwoners word doodgeskok, terwyl ander in shack-brande sterf,” sê Ntsondwa.

Hy sê verder ambulanse kan nie op reënerige dae hulle gemeenskappe binnekom nie, want die paaie is te modderig. Siek mense moet dan in kruiwaens gestoot word tot in Missionweg, sê hy.

“Ons lewensomstandig­hede behoort dieselfde aandag van die regering te geniet as die corona-virus,” meen Ntsondwa.

’n Raadslid, Nomonde Mhlobiso, het bevestig dat die aanlê van elektrisiteit weens ’n gebrek aan fondse gestaak is.

Sy sê die blaam moet voor die deur van senior regeringsampsdraers gelê word wat leë beloftes maak.

“Hierdie leë beloftes kan maak dat ek deur gefrustreerde inwoners vermoor word. In 2017 is my kar en huis met klippe bestook en my jaart is ook vol stront gegooi,” kla sy.

Monitor

Nog ’n raadslid, Simphiwe Tyukana, deel Mhlobiso se sentiment en sê hy vrees vir sy veiligheid.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. André Beetge, sê betogers het die insittendes van die Eagle Liner-bus beveel om dit te verlaat en toe die bus aan die brand gesteek.

Volgens Beetge is niemand in die voorval beseer nie en monitor cops die situasie.

Die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit se mayco-lid vir infrastruktuur, ingenieurswese en energie, Andile Lungisa, het die protesaksie skerp veroordeel.

“Die Westville-projek is gestaak omdat ons nie geld gehad het nie, maar daar is ’n begroting daarvoor noudat die budget op 27 Februarie aangepas is.

“Weens Covid-19 kan ons egter nie sê wanneer die projek voortgesit gaan word nie,” verduidelik hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters