2 maande gelede
Betogers is óp
kwaai: Inwoners van Lapland betoog oor hulle munisipale dienste verlang.Foto’s: DEON FERREIRA  ~ 

DIS al twee weke later en hulle het nog niks van die mayor af gehoor nie.

Inwoners van die infor­mele nedersettings Lapland, McCarthy en Afghanistan in Uitenhage het gister weer hul tyres gevat en dit in die strate gebrand.

Die einde van Kameshweg was vir motoriste ontoeganklik en die paaie was vol klippe gepak. Die mense het Cosgrovestraat ook toegemaak.

Inwoners van Lapland sê hul raadslid, Siseko Plaatjies, ignoreer hul pleidooie vir munisipale dienslewering.

In Augustus het inwoners van McCarthy en Afghani­stan betoog omdat hulle geen huise, water, toilette, krag, beligting of vullisverwydering het nie.

Die situasie is dieselfde in Lapland.

Die mense bly in vervalle shacks en baie wag al langer as 10 jaar vir huise.

Hulle moet hulself in die bos verlig – of in emmers, en dit dan buite weggooi.

Verder maak die inwoners maar vuur om kos te kook en die kinders moet huiswerk doen terwyl dit buite nog lig is. Boonop is die plek volgens die inwoners vrot van die misdaad.

Louis Solomon, gemeenskapsleier van Lapland, verduidelik: “Ons is ongelukkig, want ons kry nie dienste nie.

“Ons is moeg om aan die agterspeen te drink. Ons was nie eens in die budget nie!”

Deon Carolus van Lapland sê daar is regtig niks in hulle area nie. “Die mense het nie water en sanitasie nie, en die sewerage-pype is al stokoud.

“Daar is ook baie back­yard­ers (in Tiryville langsaan Lapland) wat nou nog vir huise wag.

Seerkry

“Daar is ook geen parkies vir ons kinders hier nie. As jy gaan kyk in KwaNobuhle, is daar baie en ál die budget-geld gaan daarheen,” sê hy.

Carolus noem ook dat onskuldige mense seerkry as gevolg van die hoë vlakke van crime in die area.

Rudi April van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit se direktoraat van menslike nedersettings was by die optog. Hy sê egter hy mag nie namens die munisipaliteit kommentaar lewer nie.

In al die harwar is ’n man van Lapland gearresteer.

Sers. Majola Nkohli, ’n polisie­woordvoerder, sê: “Brandon Priem (26) het vandag (gister) in die landdroshof in Uitenhage verskyn op ’n klag van die beskadiging van essensiële infrastruktuur. Hy is vrygelaat op ’n waarskuwing en moet op 26 September weer verskyn.”

Nkohli bevestig Kamesh se Vispol-eenheid, Uitenhage se honde-eenheid en die eenheid vir openbare orde was op die toneel.

Die inwoners was so ontsteld oor die arrestasie dat hulle sommer self na die Uitenhage-landdroshof geloop het in die hoop dat hulle comrade vrygelaat sal word.

Gareth Plaatjies, wat Afghanistan en McCarthy verteenwoordig, sê hulle het gister ook betoog.

“Ons is nou op die punt waar ons sê genoeg is genoeg. Hierdie is die enigste taal wat hulle verstaan,” meen hy.

Siseko sê hy het gister met die leiers van Lapland vergader. “Die leiers van Lapland sal dan aan die inwoners rapporteer.

“Ek gaan antwoorde vind op hul probleme en dan ná vyf werksdae teruggaan na die gemeenskap en self met hulle praat.”

vlamme: ’n Betoger steek tyres aan die brand tydens protesaksie in Lapland in Uitenhage.
Deon Carolus
Gareth Plaatjies
missie: Ontstelte inwoners loop na die Uitenhage-landdroshof nadat een van hulle kamerade gearresteer is.

Athol Trollip, voormalige DA-burgemeester, het in die tweede laaste week in Augustus ’n draai gaan maak in al die onwettige informele nedersettings om ’n oorsig te kry.

Trollip het beloof om te kyk wat binne die wet gedoen kan word om die mense se lewensomstandighede te verbeter.

Coup

By navraag sê Trollip: “Ek het belowe die pad sou skoongemaak word. Dit het gebeur.

“Ek het ook gesê ek sou kyk wat ek kan doen oor die installering van krane, maar toe was daar ’n onwettige coup en sedertdien is ek en my executives in exile.”

Bobani het Trollip verlede Maandag as burgemeester vervang. Daarom sê Trollip die inwoners moet Bobani kontak vir antwoorde.

Bobani het nie gister sy foon geantwoord toe Son hom bel nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters