16 dae gelede
Bendes sê hulle sal ophou skiet
HOU OP! Gaby Machune sê dis tyd dat gangsters hul dinge finaal laat staan.  ~ Bryan Goliath

SELFS in hierdie angstige tye van Covid-19 kan daar vrede wees.

Woensdag is ’n skietstilstand-ooreenkoms tussen bendes in Uitbreiding 31 en 34 onderteken.

Dis beslis baie goeie nuus vir die gemeenskappe wat ook onder die lockdown en Covid-19 gebuk gaan.

Denver Moodliar van die Spotbouers en Elroy Jantjies van die Goodfellas het voor sowat 300 inwoners blad geskud en onderneem om nie meer op mekaar jag te maak nie.

’n Plaaslike inwoner, Gaby Machune, het gesê dis hoog tyd dat die bendes hul nonsens los.

Machune het ook gesê onskuldige mense kry seer en die ding dat mense se huis gesmash word, moet ook tot ’n einde kom.

“Hierdie bog dat mense nie kan loop waar hulle wil nie en nie by sekere winkels kan koop nie, moet stop, want die hele gemeenskap ly daaronder,” het Machune bygevoeg.

Polisie

Die twee groepe het nou onderneem om die skietery te staak, maar die voorwaarde is dat die een nie in die ander een se territory moet kom nie.

Machune het verder gal gebraak: “Ons kan nie op die polisie staatmaak nie. Hulle dra nie ons belange op die hart nie.

“Die probleem in ons areas­ is dat daar te veel potte sonder deksels is.

“Die ma’s van die kinders weet hul seuns is by gangs betrokke, maar hulle smeer als toe. Dis net in die bruin gemeenskap waar hierdie nonsens aangaan.”

BELOFTE: Denver Moodliar (met mikrofoon) van die Spotbouers stem in tot vrede met ’n rival bende. Foto: Bryan Goliath

Crawford Fraser, ’n plaaslike leier, sê gangsters lieg as hulle sê hulle wil net hul territory beskerm.

“Extension 31 en 34 behoort nie aan hulle nie.

“Stop dié onheil van julle. Kyk liewer na jul mense en hou op lewens verwoes.

“As jy grond wil hê, sal ek vir jou saad gee en dan plant jy op ’n stukkie grond.

“Magtig, man, moenie jou eie mense besteel nie.

“Stop dié drama,” vaar Fraser uit.

Een van die mammies het vertel deur watter hel sy en haar gesin gegaan het toe daar voorheen op hul huis geskiet is.

Versigtig

Sy het gesê sy weet nou nog nie waaroor dit gegaan het nie, want niemand in die huis was betrokke by bendebedrywighede nie.

Die inwoners is versigtig optimisties dat die vredemakery die begin gaan wees van ’n vreedsame bestaan in die Northerns.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters