14 dae gelede
Bende-eenheid arresteer 2 verdagtes in hof
Photo by Bill Oxford on Unsplash
Die cops het twee vermeende gangsters sommer in die hof vasgetrek.  ~ Foto ter Illustrasie

DIE provinsiale ondersoekeenheid teen georganiseerde misdaad (bende-eenheid) het Maandag twee vermeende gangsters in hegtenis geneem terwyl hulle in die Baaise landdroshof verskyn het.

Die twee was daar op klagte van poging tot moord en die onwettige besit van ’n vuur­wapen en ammunisie.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê op 7 November het Leonard Roberts (24) en ’n 32-jarige vriend gekuier in ’n huis in Lawlerstraat in Schauderville.

Omstreeks 21:45 het hulle iemand na Roberts hoor roep. Albei mans is toe na buite.

Terwyl hulle die hek genader het, het gunshots vanuit ’n voertuig begin klap.

Roberts is in die kop gewond. Hy is op die toneel oorlede.

Naidu sê lede van die bende-eenheid het dadelik op die skietvoorval gereageer.

Kort hierna het hulle die verdagtes se motor in Ethelstraat in Helenvale gewaar.

Ondervraging

Terwyl die polisie die voertuig agtervolg het, het die insittendes op die lede losgebrand. Een van die lede is in die kop getref. Die lid is hospitaal toe geneem vir behandeling.

Naidu sê in daardie stadium is vier mense in hegtenis geneem vir ondervraging, maar hulle is kort daarna vrygelaat.

Op 4 Januarie het Riaan Baartman (25) en Darryn Wentzel (25) hulself aan die polisie oorgegee oor hulle op die cops geskiet het.

Albei het dié week in die Baaise landdroshof verskyn vir ’n formele borgtog-aansoek.

Speursers. Xolani Peta, ondersoekbeampte in die saak, het albei verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op Roberts en die poging tot moord op sy vriend.

Albei sake is uitgestel tot Dinsdag 28 Julie. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters