19 dae gelede
Bekommerdes grom oor gat
kommer: Ouers vrees vir die veiligheid van kleintjies soos die vierjarige Janice Vywers, wat net by die oop gat wil speel. Foto: bryan goliath  ~ 

’N GROOT gat in Gloriastraat in Kleinskool is ’n tragedie wat wag om te gebeur, kla inwoners.

Die owerhede het die gat gemaak. Dit skep ’n potensiële gevaar vir die kinders van die buurt.

Hoewel soortgelyke voorvalle al soveel keer tot ’n ramp gelei het, steur die munisipaliteit hom op die oog af min aan die pleidooie van die inwoners.

Duik

Die gat in Gloriastraat lyk baie diep. Dis vol water, en gevolglik wil die kinders daarin swem.

Wendall Hlabanie, een van die besorgde inwoners, sê een van die bure moet heeltyd ’n oog oor die gat hou om seker te maak kinders duik nie daarin en kom iets tragies oor nie.

Die gat is glo aan die begin van Junie gegrawe. Daar was ’n lint om, maar nou staan dit net so oop.

En dit blyk baie aanloklik te wees vir kinders, want hulle wil net daarin spring.

Volgens Hlabanie het ’n lekkasie aan die begin van die jaar ontstaan.

Die munisipaliteit het die gat gegrawe in ’n poging om die lekkasie te herstel. Dit het dinge net vererger, kla Hlabanie.

“Nou sit ons met ’n lewensgevaarlike situasie, want hier is baie klein kindertjies in ons straat.

“Die laaste ding wat ons wil hê moet gebeur, is dat ’n onskuldige kind in die water moet beland.

“Ons wil hartseer vermy. Daarom vra ons die munisipaliteit om die gat so spoedig moontlik te kom opvul.

Oproepe

“Ons is almal lief vir ons kinders en ons wil nie hê enige een van hulle moet seerkry nie.”

Die gat is boonop reg voor iemand se jaart. Die inwoner kan nou al byna ’n maand al nie met sy bakkie daar ry nie.

Toe Son die raadslid vir die gebied, Georgina Faldtman, nader, het sy dadelik ’n paar oproepe gemaak.

Faltdman het belowe dat sy sal toesien dat die toemaak van die kommerwekkende gat die nodige aandag sal geniet.

Die munisipaliteit beskou die opvul van die gat nou as ’n prioriteit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters