3 maande gelede
‘Behuising vir DA prioriteit’
Nqaba BhangaFoto: deon ferreira  ~ 

NQABA Bhanga, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, meen die koalisieregering in die Nelson Mandelabaai-metro het behuising die afgelope twee jaar prioriteit­ laat geniet.

“Gedurende ons termyn in die regering het ons saam met die Housing­ Development Agency (HDA) gewerk om 2 188 Hop-huise en 898 huishoudings uit stresvolle informele nedersettings na Greenfield-projekgebiede te verskuif. Informele nedersettings is opgegradeer en duisende titelbewyse is uitgedeel.

“Onder die bestuur van die ANC is geen beduidende vordering gemaak met die verskaffing van huiseienaarskap aan armes en inwoners van die Metro nie.

“Tussen 2013 en 2015 onder voormalige ANC-administrasies is nie ’n enkele titelakte in die Metro uitgedeel nie.”

Volgens hom het die koalisie-regering baie werk gedoen om huisbesit ’n werklikheid vir inwoners te maak. “Die nuutste onbesonne wantrouemosie teen die uitvoerende burgemeester, Athol Trollip, verhoed dat die Metro op die lewering van huise fokus.”

Ontwikkeling

Bhanga voeg by dat ’n indaba oor menslike nedersettings dié week in die Nelson Mandelabaai-stadion gehou is om die strategieë en prioriteite van die ontwikkeling van menslike nedersettings in die Metro te bespreek.

“Die koalisieregering het ook ’n lappie grond in Somerstrand toegewys vir die ontwikkeling van maatskaplike behuising, ’n sakesentrum en studente-akkommodasie.

“Die lewensomstandighede van ons inwoners is belangrik en die hoë prioriteit daarvan kan in die stad se besteding gesien word.”

Volgens Bhanga het die Metro in die boekjaar 2016-’17 100% van sy ontwikkelingstoelae vir stedelike nedersettings (USDG) bestee.

Hierna het die Stad aan die einde van die 2017-’18 boekjaar meer as 96% van die USDG-befondsing bestee. Dit sluit in die bykomende toekenning ontvang van die tesourie.

“Ons USDG-toekenning is gebruik om dienste aan die stad se kwesbare gemeenskappe te lewer, waaronder vordering om emmertoilette te vervang, die verskaffing van gedienste erwe, die verbetering van vyf informele nedersettings en die teer van paaie.”

Volg Roslyn Klaasen op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters