3 maande gelede
Bedrieër ‘mag vir ANC stem’
Terugslag: Bongo Nombiba, ANC-raadslid, se appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis het in die Grahamstadse hooggeregshof misluk.Foto: deon ferreira  ~ 

BONGO Nombiba gaan nog Donderdag die Nelson Mandelabaai-metro se raadsvergadering bywoon.

Die ANC-raadslid se verlof tot appèl deur die regter-president in die Grahamstad-hooggeregshof is van die hand gewys.

Op die raadsvergadering gaan wantrouemosies teen onder andere die burgemeester, Athol Trollip, bespreek word.

Die opposisiepartye – die ANC, EFF, Patriotic Alli­ance, UDM, United Front en African Independent Congress – is saam 61 stemme sterk.

Luidens die reëls­ van die raad benodig hulle net 61 stemme om hul mosies van wantroue, sowel as hul ander eise, te laat slaag.

Johann Mettler, stads­bestuurder, het gister gesê hy het die hofbeslissing ontvang.

“Nombiba het tot en met 2 September kans om ’n petisie by die hoofregter in te dien om sy appèl aan te hoor.

“Tot dan is hy ’n raadslid,” het Mettler gesê.

Nombiba, die ANC-raadslid in wyk 20, is in April tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog en geldwassery waarby R20 000 betrokke was.

Borgtog van R2 000 is in Julie in die Baaise handelshof aan hom toegestaan hangende die uitslag van sy petisie om verlof tot appèl aan die regter-president van die hooggeregshof in Grahamstad. Dit was nadat sy aanvanklike appèlaansoek in Junie in die handelshof in Port Elizabeth van die hand gewys is.

Landdros JJ Claassen het in Julie in sy uitspraak gesê al voorsien hy nie dat ’n ander hof tot ’n verskillende beslissing as syne sal kom nie, kan hy nie sê daar is geen argument vir die verdediging se posisie nie.

As die appèl misluk, moet Nombiba hom binne sewe dae by die St. Albans- gevangenis aanmeld, het Claassen bygevoeg.

Die DA in die Oos-Kaap het die hooggeregshof se besluit verwelkom.

“Volgens die wet moes Nombiba hom binne sewe dae oorgegee het, maar dit het nie gebeur nie. Ons versoek die owerhede om so gou as moontlik teen Nombiba op te tree en hom in hegtenis te neem,” het die DA-woordvoerder, Mlindi Nhanha, gesê.

“Die hof se besluit bevestig weer dat die ANC nie met die mense se geld vertrou kan word nie en dat ’n misdadiger in die ANC-koukus is.

“Die ANC is nie in staat om die Stad en Suid-Afrika te beheer nie.”

Die ANC se sekretaris in die Metro, Themba Xathula, het met druktyd nog nie op Son se versoek om kommentaar gereageer nie.

Volg Roslyn Klaasen op Twitter.

Stuur nuuswenke aaninfo@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters