Verlede maand
‘Bang’ getuie in Nathanël-saak Maandag in hof
In hof
Die polisielede Caylene Whiteboy, Simon Ndyalvane en Vorster Netshiangolo verskyn in die hof op aanklagte  ~ Verskaf

’N GETUIE wat awol geraak het vóór die Nathaniël Julies-hofsaak het weer opgeduik en gaan komende Maandag en Dinsdag in die hof getuig.

Tahirah Kaldine (21) was veronderstel om laas Maandag te getuig, maar sy het nie opgedaag nie en regter Ramarumo Monama moes noodgedwonge ’n lasbrief vir haar arrestasie uitreik.

Sy het Vrydag in die Gautengse hooggeregshof verskyn in ’n blou jean, bypassende baadjie en swart tekkies. Die emosionele Kaldine het tranerig aan die regter verduidelik dat sy te bang was om in die hof te verskyn.

Sy het gesê toe die hofsaak, waarin polisielede teregstaan op die moord van die gestremde Nathaniël, Maandag begin het, het sy weggehardloop van haar ouerhuis in Eldorado Park.

Die regter het die lasbrief teen haar gekanselleer.

"Ek wil hê jy moet verstaan as enigiemand jou dreig, moet jy die ondersoekbeampte daarvan inlig. Of die persoon ’n polisielid óf ’n lid van die gemeenskap is, jy moet dit onder my aandag bring,” het die regter gesê.

Die getuie is vergesel deur haar ma, Tasneem Kaldine, wat vroeër getuig het dat sy gesien het hoe ’n polisiebeampte wyle Nathaniël onder uit ’n trok getrek het nadat hy geskiet is.

Volgens Tasneem het die polisielid toe die oorledene se liggaam agter in ’n polisievên gelaai en weggery. Die tiener is later dood verklaar toe hy by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal op 26 Augustus 2020 aangekom het.

Die beamptes wat teregstaan op die moord van die gestremde tiener, asook tampering van bewyse, is sers. Simon ‘Scorpion’ Ndyalvane, Sergeant Vorster Netshiongolo en konst. Caylene Whiteboy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters