8 maande gelede
Bal is aan die rol
Tshonono Buyeye  ~ 

ALLES is weer stil nadat die raadslede van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit met die inwoners van Vastrap vergader het.

Dinsdag het inwoners in Booysenpark betoog. Dele van Standfordweg en die Bloemendal-hoofpad is met groot klippe en brandende bande versper.

Kalm

Inwoners eis huise, water, elektrisiteit, toilette en vullisverwydering. Hulle gebruik tans emmertoilette en onwettige elektrisiteit.

Volgens Simphiwe Busa­kwe, ’n gemeenskapsleier, is dinge nou kalm. Hy sê: “Vandag (gister) was mense van die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling hier. Mense het ook die vullis in die area begin skoonmaak.

“Maar ek sal die beloftes wat hulle gemaak het, net glo wanneer dit uitgevoer word.

“Laas is belowe ons gaan relocate word, maar dis al twee jaar later.”

Die burgemees­ter, Mongameli Bobani, het Son verwys na die onderburgemeester, Tshonono Buye­ye, omdat hy in China is.

Buyeye sê: “Eerstens het ons die beskadiging van infrastruktuur veroordeel. Ons verstaan hulle frustrasie, maar só iets kan nie toe­gelaat word nie.

“Hulle het hulle kwessies aan ons voorgelê. Een van die probleme is die elektrisiteit en die donkerte snags.

“Die direkteur van elektrisiteit sal teen die einde van die week ’n plan maak met die beligting.

“Ons het ook aan die inwoners verduidelik ons moet eers hulle huise skuif sodat voertuie die paaie kan gebruik.

“Eers wanneer hulle geskuif is, kan ons die wonings met elektrisiteit toerus.

“Die skuiwing behoort teen einde Maart gedoen te word.”

Buyeye sê hulle het ook die kontrakteur wat ’n straat in Vastrap gaan bou, aan die inwoners voorgestel.

Hy, die wyksraadslid, Vukile Dyele, en die gekose verteenwoordigers van die gemeenskap sal in kontak bly oor die vordering van die beloofde ontwikkeling.

“Ons kon nie alles in een vergadering uitsorteer nie.

Byeenkomste

“Ons het aan die mense gesê ons wil nie onrealistiese verwagtings skep nie,” voeg Buyeye by.

Intussen het die vyf mense wat in hegtenis geneem is vir die oortreding van onder meer die wet op byeenkomste en die wet op nasionale padverkeer in Gelvandale se landdroshof verskyn.

Hulle is Noncedo Nakani, Bongani Ganu, Andiswa Njigana, Nosipho Mahlati en Siviwe Feke.

Twee van hulle was betrokke by die betogings in Helenvale en drie by dié in Booysenpark.

Hulle is vrygelaat en moet op 27 Februarie weer in die hof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters