11 dae gelede
Baaise metro dalk R792 miljoen kwyt
AAN'T STUUR: Die Nelson Mandelabaai- metro met Mongameli Bobani aan die stuur, kan honderde miljoene rand se hulp vanaf die nasionale tesourie verbeur.  ~ Theo Jeptha

DIE Nelson Mandelabaai Metro sal oortyd moet werk as hy wil verseker die nasionale tesourie betaal ’n R792 miljoen-toelaag aan hom uit.

Dít volg nadat die tesourie in Februarie ’n skrywe aan die Metro gerig het om die waarnemende stadsbestuurder, Noxolo Nqwazi, in te lig dat die tesourie beoog om hom te beroep op art. 216 (2) van die Grondwet.

Dié artikel bepaal dat die nasionale tesourie geld kan weerhou van ’n staatsinstelling wat herhaaldelik maatreëls van deursigtigheid en verantwoordbare finansiële bestuur verbreek.

In die brief, gedateer 5 Februarie, sê Malijeng Ngqaleni, die tesourie se direkteur­ van inter­regeringsverhoudings, die besluit volg ná verskeie samesprekings met die Metro.

Die tesourie het die Metro opdrag gegee om sy aangepaste begroting teen 28 Februarie voor te lê om vir befondsing van die tesourie in aanmerking te kom. Die begroting is egter nie deur die raad voorgelê nie. News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters