2 maande gelede
Athol na cops oor korrupsie
Mongameli BobaniFoto: Deon Ferreira  ~ 

’N KLAG van korrupsie is teen die mayor, Mongameli Bobani, en voormalige ANC-streeksekretaris Zandisile Qupe aanhangig gemaak.

Die een wat dié vinger gister by die Humewood-polisiestasie gewys het, is niemand anders nie as Athol Trollip, voormalige DA-burgemeester in die Baai.

Hy sê die saak kom al van 2009 af, toe miljarde rande “weggeraak” het.

“Ek was die uitvoerende burgemeester van Augustus 2016 tot 27 Augustus 2018. In dié periode was daar ’n uitgebreide ondersoek na bedrog en korrupsie in die geïntegreerde openbare vervoerstelsel (IPTS),” sê Trollip­.

“Dié ondersoek is gedoen deur die geskorste stadsbestuurder Johann Mettler en die nasionale tesourie.”

Trollip sê die media het berig Bobani word betrek by beweerde bedrog en/of korrupsie binne die IPTS-projek. Hy het glo gevra vir fondse of fondse ontvang en/of voordeel getrek uit publieke fondse.

Trollip sê ook hy glo Mett­ler is geskors juis omdat hy die dryfveer agter die ondersoek teen Bobani was.

Trollip sê in sy dienstydperk as burgemeester het ’n forensiese verslag van die ouditeursfirma Deloitte sy aandag getrek.

’n Plaaslike prokureur het in ’n verklaring in dié verslag die beweerde korrupsie in die IPTS blootgelê. Dit was egter nie onderteken nie.

Nou is daar blykbaar ’n soortgelyke affidavit gemaak – en dié een het sy handtekening op. Dít nadat die Raad vir Regspraktyk hom aangekla het.

“Ek stel daarom strafregklagte in teen Bobani ingevolge die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte­ Aktiwiteite.

“Verder het verskeie mediaberigte ook aan die lig gebring dat Qupe betrek word by beweerde bedrog en/of korrupsie binne die IPTS-projek, waar hy gevra het vir fondse of fondse ontvang het en/of voordeel getrek het uit publieke fondse.

Skuldig

“Daarom stel ek ook ’n strafregklag teen Qupe in (ingevolge dieselfde wet).”

Hy beklemtoon dié wet se art. 3, wat lees: “Enige persoon wat direk of indirek instem tot vergoeding of dit aanvaar van enige ander persoon, of dit hom/haar of ’n ander persoon bevoordeel op ’n manier ... wat gelyk is aan (a) die misbruik van ’n gesagsposisie, (b) ’n verbreking van vertroue, of (c) die skending van regsplig of ’n stel reëls, is skuldig aan korrupsie.”

Trollip sê: “Ek glo dat die burgemeester van enige stad veronderstel is om die hulpbronne van die stad te beveilig.”

Bobani het by herhaalde probeerslae nie sy foon beantwoord of op boodskappe gereageer nie.

Qupe het gistermiddag gesê hy is nog nie ingelig oor die klag teen hom nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters