14 dae gelede
Apostel hul engel ná brand
noodsein: Apostel Gregory Forbes (regs) bid vir Adam (links), Manie, Raynald en Charles Mandekka. Foto: Deon Ferreira  ~ 

DIE Mandekka-gesin wat verlede week alles in ’n brand verloor het, is gehelp.

Dis danksy die goeie hart van apostel Gregory Forbes van Jacksonville.

Dié gesin van Bloemendal in die Baai het darem nou weer klere, komberse en ander noodsaaklike huishoudelike items.

Forbes vertel: “Toe ek van dié geval in die koerant lees, het ek besluit om te help. Ek help gewoonlik uit in sulke gevalle.

“Dit help nie ’n mens pak jou wardrobe vol nie; deel eerder uit sodat ander geseën kan word.”

Van die gesinslede slaap steeds in die huis, al het die plek nie meer deure nie. Snags word hulle besteel terwyl hulle slaap.

Charles Mandekka sê die verbrande huis is steeds sy enigste toevlug, want hulle het nie ’n ander plek waar hulle kan bly nie.

Weet

Charles sê: “As ek nie kan slaap nie, sit ek maar hier by die ingang en voel die breeze deurkom.

“Maar ek weet, solank as wat ek op die aarde staan, kan ek niks sonder my God doen nie.

“Ek vat dit soos ek dit kry.”

Sy seun, Manie, sê hy is baie dankbaar vir die skenkings.

Die houtstruktuur waarin Manie agter in die jaart gewoon het, het heeltemal uitgebrand.

Hy slaap nou snags by vriende wat naby woon.

Oor die skenkings sê hy: “Ek kan nie die gevoel express nie. Ek is net baie dankbaar.”

Forbes vra dat mense hulle harte vir die Mandekka-gesin moet oopmaak en uitreik met hulp.

Maatskaplike werkers het die gesin verlede week besoek. Rampbestuur het hulle ook bygestaan.

Enige iemand wat die Mandekkas in hulle nood wil bystaan, kan Manie bel by 065 331 5049.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters