2 dae gelede
Aanvaller moor pa van 5 met klip
GELUKKIGER DAE: ’n Trotse Calvin Booysen (regs) en sy vrou, Olive, pronk destyds met hulle kleinkind Jayden Gilbert. Die foto is sowat ses jaar gelede geneem.  ~ Foto Verskaf

DIE lewe van ’n pa van vyf is wreedaardig kortgeknip toe hy met ’n klip doodgekap is.

Die slagoffer, Calvin Booysen (49) van Jennekerstraat, Arcadia, in die Baaise Northerns, was ’n opsigter by ’n plaaslike skool.

Uitgewys

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder, sê Dinsdag 20:40 het lede van die Bethelsdorp cop shop ’n klag in Arcadia ondersoek.

By hulle aankoms op die toneel het lede van die gemeenskap Booysen se lyk aan die polisie uitgewys.

Booysen se lyk het daar in die straat op die hoek van Sugarbush- en Esterhuizenstraat gelê.

Kapt. Janse van Rensburg sê dit lyk asof die slagoffer met ’n groot betonblok aangeval is.

Volgens haar is die motief vir die moord in hierdie stadium nog on­bekend.

Sy sê geen getuies het tot dusver na vore gekom om te help met die ondersoek nie.

Booysen se familie is platgeslaan deur sy dood.

’n Familielid sê Booysen het in die aanval gegil en gestoei.

Sy sê Booysen se stem moet in sy aanvaller se ore weerklink sodat hy nie kan slaap nie.

Volgens haar het die aanvaller die familie se broodwinner weggevat, want Booysen het vir sy geliefdes gewerk.

Sy sê Booysen was ’n baie saggeaarde en stil mens.

Volgens ’n ander familielid is Booysen aangeval toe hy op pad was na die corner shop. Die familie meen sy aanvaller wou hom seker beroof.

Sy sê hulle het van Booysen se dood te hore gekom toe ’n vrou by Booysen se huis opdaag en navraag doen oor watter klere hy aanhet, want sy gesig was in daai stadium toegegooi.

Vermorsel

Die familielid sê toe Booysen se vrou, Olive, die beskrywing van die klere gee, toe sê die vrou die persoon wat aangeval is, het dieselfde klere aan.

Volgens die familielid het die vrou Olive gevra om saam met haar te gaan tot by die toneel. Toe hulle daar aankom, was dit Calvin wat aangeval is.

Die familielid sê hulle kon Booysen se gesig nie sien nie omdat dit glo “vermorsel” was.

Volgens Booysen se familie was hy en Olive 25 jaar getroud.

  • Enige een wat die polisie met die ondersoek kan help, word gevra om Beth­elsdorp se speurders te bel by 082 442 1633. Die Stop Misdaadnommer kan ook gebel word by 08600 10 111.

Mense met inligting kan ook hulle naaste polisie­stasie bel of andersins gebruik maak van die polisie se MySAPS app, wat jy kan download.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters