3 dae gelede
7 vas vir kaping en moord
VASGETREK: Die polisie het sewe verdagtes vasgetrek in verband met ’n motorkaping en moord.  ~ Foto: verskaf / ter illustrasie

SEWE verdagtes is in hegtenis geneem ná ’n moord en hijacking wat vroeër in Sterkspruit aangemeld is.

Dié deurbraak is gemaak deur die noue samewerking tussen Sterkspruit se misdaadintelligensie-eenheid, sigbare polisiëring, speurders en lede van Aliwal-Noord se plaaslike kriminelerekordsentrum.

Kapt. Ursula Roelofse, ’n polisiewoordvoerder, sê op 26 September het die polisie ’n klag ontvang dat die slagoffer, Sphiwo Ntloko, onder dwang deur onbekende verdagtes van sy huis af weggeneem is.

Die booswigte het na bewering geld van die slagoffer geëis aangesien sy bankkaart gebruik is om geld by ’n OTM in Sterkspruit te onttrek.

Roelofse sê die booswigte het aangedring op meer geld. Dis toe dat die slagoffer die verdagtes oorreed het om ’n familielid te kontak om nog ’n bankkaart dorp toe te bring.

Die familie van die slagoffer het hierop gereageer. Hulle het die verdagte aktiwiteite by die betrokke bank dopgehou en besluit om onmiddellik die polisie in kennis te stel.

Lede van misdaadintelligensie en sigbare polisiëring het op die klag gereageer.

Toe die sewe verdagtes die polisie in die omgewing spot, het hulle die slagoffer terug in sy voertuig gedwing en teen ’n hoë spoed in die rigting van die Mokhesi- administratiewe area gery.

Nadat ’n soektog in die omgewing van Mokhesi van stapel gestuur is, is die slagoffer se voertuig om 03:14 verlate aangetref.

Beswyk

Die slagoffer se lyk is sowat 100 m weg van sy voertuig af aangetref.

Daar was aanduidings dat die oorledene weens sigbare kopbeserings beswyk het.

Volgens Roelofse het lede van die plaaslike kriminele­rekordsentrum vingerafdrukke vanaf die voertuig gelig.

Sy sê een positiewe identifisering is later gemaak uit die vingerafdrukke wat gelig is.

Opvolgwerk het aan die lig gebring dat verskeie kontant-onttrekkings uit die oorledene se bankrekenings gemaak is.

Sedert die voorval het die polisie heelwat inligting ontvang. Lede van die publiek was egter in staat om al die verdagtes te identifiseer.

Roelofse sê ’n rits intelligensie-gedrewe operasies is uitgevoer sedert die dag van die voorval tot 4 November om die verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem.

Die eerste operasie het cops na die Palmietfontein-omgewing gelei waar vier van die verdagtes opgespoor en in hegtenis geneem is.

Hulle ouderdomme is 32, 23, 20 en 19.

Nog opvolgwerk het aan die lig gebring dat die ander verdagtes ’n inisiasieskool gaan besoek het en op pad was na die village van Ndingishe- administratiewe area.

Laaste

’n Operasie is uitgevoer en ’n 25-jarige verdagte is in hegtenis geneem. Die volgende dag is nog ’n 32-jarige verdagte opgespoor en in hegtenis geneem.

Die afgelope Maandag is die laaste verdagte (26) ge­arresteer.

Al sewe verdagtes is tans in Sterkfontein in aanhouding.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters