2 maande gelede
2 wyke vandag na die stembus
Bevlin Minish (SRWP)  ~ 

VANDAG is die dag waarop inwoners van wyk 35 en 37 in Nelson Mandelabaai hulle keuse gaan maak.

Son het gister berig oor die wykskandidate van die ANC, DA en ACDP.

Son het ook met die kandidate van die Socialist Revolutionary Workers’ Party (SRWP) en die Patriotic Alliance (PA) gepraat.

Die PA se kandidate is Quintin Baatjies (wyk 37) en David Petersen (wyk 35).

Peterson, wat grootgeraak het in Bloemendal, sê die grootste kwessie in die wyk is werkloosheid onder die jeug. “Dit lei tot gang­ster­ism en drugs, want hulle is ledig en kan nie vir hulleself sorg nie. So, ek gaan my op die jeug toespits deur vir hulle werkgeleenthede te skep.”

Petersen sê hulle wil tientalle containers in die wyk opsit waar internet cafés en skills development vir die jeug beskikbaar gaan wees.

Die PA wil minstens aan een matrikulant uit elke huishouding ’n job gee.

Baatjies van Kleinskool sê die grootste issue is diens­lewering in die wyk, asook werkloosheid onder matrikulante en gegradueerdes.

“Ons kort nóg ’n PA-raadslid in die raad, want ons is ál party wat veg vir die noordelike gebiede. Die geheim is om nie ’n slapgat raadslid te hê wat enige verskoning aanvaar nie,” sê Baatjies.

Hy meen die jeug van die area moet ’n geleentheid kry om lid te word van die metropolisie. Hy wag om sy eerste council meeting by te woon om uit te vind waar die geld is sodat dit aan dienslewering, werkskepping en munisipale kwessies spandeer kan word.

Vir die SRWP staan Brian Kivedo (wyk 35) en Bevlin Minish (wyk 37).

Verval

Kivedo van Morningside sê hy’t talle kwalifikasies en ervaring in die politiek. “Een van die groot uitdagings in die wyk is onwettige rommelstrooiery. Die werkloosheidsyfer is ook baie hoog en die gaping tussen ryk en arm is te groot.

“Daar is behuisingsnood. Die eerste ding wat ek as raadslid sal aanpak, is die morele verval van die mense in die wyk.”

Hy sê misdaad is ook ’n uitdaging en weerlose kinders word afgemaai.

Kivedo stel voor die metropolisie en SAPD span saam om ’n sterker eenheid te vorm. Hy sê ook jong mense moet ’n kans kry om vaardighede te ontwikkel.

Minish van Uitbr. 32, Beth­elsdorp, sê die grootste uitdaging is misdaad soos roof en moord. “Ons het ’n hoë misdaadsyfer en ons kinders word doodgeskiet asof hulle diere is.

“Die tweede uitdaging is werkloosheid.”

Sy voeg by as sy die kans gegun word om die wyk te lei, sal sy aan die mense teruggee wat hulle oor die jare verloor het – hoop, verwagting, menswaardigheid en vertroue.

“Die jeug kry nie werk nie en hulle verkoop drugs om ’n sent te kry. Hulle moet geleenthede gegun word,” verduidelik Minish.

) Son het in gister se uitgawe verkeerdelik berig die Economic Freedom Fighters (EFF) het ook wykskandidate.

Die EFF gaan egter nie aan die tussenverkiesings vir die twee wyke deelneem nie. Son vra verskoning vir die ongerief.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters