4 maande gelede
2 skuldig aan oue se moord
Junior Lungisa  ~ Deon Ferreira

TWEE mans wat tereggestaan het vir die moord op ’n weerlose 86-jarige vrou, is Donderdag in die Baaise hooggeregshof skuldig bevind aan moord.

Regter Elna Revelas het Junior Lungisa (20) van Ezinyoka en Sizwe Jika (26) van Missionvale ook skuldig bevind op klagte van huisbraak met die opset om te steel en roof met verswarende omstandighede.

Hulle skuldigbevinding spruit uit die moord op Anne Maria Smit van Marthastraat 69, Kammapark, in die Baai op 28 Mei 2018.

Revelas het gesê wat steurend is, is dat Smit op die vloer aangetref is en dit was duidelik uit die wonde aan haar skedel dat sy erg aangerand is.

Revelas het na mediese getuienis verwys dat Smit met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan is.

Herstel

Volgens Revelas was Smit deurmekaar toe sy in die hospitaal opgeneem is, maar sy het geweet wat met haar gebeur het.

Revelas sê mediese personeel het geglo Smit sal tuis kan herstel omdat daar geen teken van infeksie was nie.

Smit is op 7 Junie 2018 ontslaan, maar is twee dae later weer in die hospitaal opgeneem weens meningitis.

Sy het later gesterf nadat haar organe ingegee het.

Sizwe Jika

Revelas het verwys na Jika se getuienis dat hy ’n ervare inbreker is en reeds 100 huisbrake op sy kerfstok het.

Hy sal met of sonder vriende ’n huis in ’n suburb uitsonder en daarheen gaan onder die voorwendsel dat hy geld insamel vir een of ander cause. As dit lyk asof niemand tuis is nie, word daar ingebreek.

Volgens haar het Jika getuig hy en Lungisa is albei werkloos en dat hulle die opbrengs van die gesteelde items gebruik het om hulle dwelmgewoontes te finansier.

Jika het getuig hulle het op die betrokke dag by Smit se huis ingebreek omdat hulle gedink het daar is niemand tuis nie.

Bedoeling

Sy het verwys na sy getuienis dat sodra hulle op heterdaad betrap word, is die praktyk altyd dat hulle weghardloop. Volgens Jika was die aanranding nooit deel van die plan nie.

Hy het getuig hy het nooit die bedoeling gehad om enigeen in die huis seer te maak of te vermoor nie.

Sy sê Lungisa het getuig hy was nooit in Smit se huis nie en dat hy bloot saam met Jika gegaan het omdat hy gedink het gereedskap gaan daar aan hulle oorhandig word.

Revelas sê Lungisa se getuienis dat hy buite die huis was om op die lookout te wees vir Jika, was ’n after­thought.

Sy het hier verwys na die getuienis van ene Gerrit Koen dat hy beide Lungisa en Jika oor die huis se muur sien spring het.

Volgens Revelas het Lungisa toe kortom ’n storie opgemaak oor hoekom hy in die huis was.

Sy verduideliking was dat hy wou seker maak Jika hou nie sekere items vir homself nie. Revelas het dié verduideliking verwerp.

Revelas sê sedert die oomblik toe Lungisa en Jika oor die muur gespring het, was Lungisa in beheer van die sak met die gesteelde items.

Die regter wou ook weet indien dit so is dat Lungisa nie in die huis was nie, hoekom sou Jika vir hom R1 700 gee as hy nie deel gehad het in die huisbraak nie.

Revelas sê Lungisa was ’n swak getuie en het nie ’n goeie indruk op die hof gemaak nie.

Sy sê Jika se getuienis dat Lungisa verantwoordelik is vir die moord, moet met omsigtigheid hanteer word omdat hy ’n enkelgetuie en medepligtige is.

Volgens Revelas vind sy dit onwaarskynlik dat Lungisa bloot op die lookout was op die betrokke dag. Sy sê hy was op die perseel.

Gekonfronteer

Sy sê Jika het ook nie die luxury om die hele aanranding net op Lungisa te plaas nie.

Volgens Revelas kon Lungisa en Jika weggehardloop het toe Smit hulle gekonfronteer het. Sy sê daar was geen rede vir hulle om haar met ’n hamer, byl of met albei aan te rand nie.

Die saak is voorlopig tot 14 April uitgestel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters