7 maande gelede
2 shots tref, hoor hof
WALTER FRANCIS  ~ 

DAAR is twee bullets gedurende ’n nadoodse ondersoek­ uit die lyk van die art. 204-getuie Alex Ferreira (27) verwyder.

So het AO Sherwin Walsh gister in die moordverhoor van Walter Jeremiah Francis (33), Wayne Rodney Wabanie (25) en Shamiel Shaun Gallant (20) getuig.

Hulle staan tereg op klagte van moord, sameswering om moord te pleeg en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Die voorval waaroor Ferreira­ moes getuig, het op 26 Oktober 2014 naby Kakorastraat in Uitbreiding 21, Bethelsdorp, gebeur.

Luidens die klag­staat­ was Ferreira­ ’n staatsgetuie in die betrokke moordsaak.

Hy is in Februarie 2017 in Bantamsingel, Bethelsdorp, doodgeskiet.

Walsh het gister getuig hy was teenwoordig toe ’n nadoodse ondersoek op Fer­reira gedoen is.

Volgens hom is twee bullets uit Ferreira se liggaam verwyder – een bullet uit die kop en nóg een uit sy lies.

Walsh het getuig nadat die bullets uit Ferreira se lyk verwyder is, is dit in ’n forensiese bewysstuk-sak geplaas.

Daarna het hy die betrokke sak om veiligheidsredes in ’n kluis gebêre.

Volgens Walsh het hy vroeër­ op die crime scene ’n prime residue-toets op ene Luke du Plessis gedoen.

Hy getuig ene konst. Pio het hom gevra om die toets te doen vir uitskakelings-doeleindes.

Kort hierna het kapt. Luzuko­ Mdimeka by die getuiebank ingeskuif.

Volgens Mdimeka het hy op 13 Maart 2017 die bullets ontvang wat uit Ferreira se lyk verwyder is.

Hy sê ’n ondersoek na die bullets het aan die lig gebring dat dit positief verbind word met die koeëldoppies wat op die moordtoneel gevind is, asook die vuurwapens wat in die voorval gebruik is.

Die verhoor dien voor regter Elna Revelas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters