3 maande gelede
Zuma wag nog sy lot af
top-manne: Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa probeer mekaar die laaste paar weke uitoorlĂȘ.Foto: DAILY SUN  ~ 

DIE hele land het gister in spanning gewag vir die val van Number One.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het gistermiddag ure lank in ’n hotel in Pretoria beraadslaag oor wat om met pres. Jacob Zuma te maak.

Teen gistermiddag vroeg was daar rumours dat Zuma ingestem het om van sy pos af te staan, maar die presidensie het dit later as “fake news” uitgemaak.

Teen druktyd is geen amptelike aankondiging nog gemaak nie.

Die ANC is die laaste tyd onder groot druk om van Zuma ontslae te raak.

Ontbind

Die ANC se top-ses het voor die ander lede van die NUK by die Saint George Hotel in Irene opgedaag.

Die top-ses is Cyril Ramaphosa, die ANC-president, David Mabuza, sy adjunk, Gwede Mantashe, die voorsitter, Ace Magashule, die sekretaris-generaal, Jesse Duarte, sy adjunk, en Paul Mashatile, die tesourier-generaal.

Talle joernaliste het buite uitgekamp.

Opposisiepartye het gistermiddag gesê die parlement moet ontbind word nadat ’n mosie van wantroue in Zuma ingedien is.

Die opposisie het gister in die parlement vergader.

Mmusi Maimane, die DA-leier, het daarna gesê hulle het besluit hulle wil die mosie van wantroue in Zuma, wat vir 22 Februarie geskeduleer is, vandeesweek aangehoor hê.

Maimane het gesê hulle gaan ook vra dat die waarnemende president die parlement ontbind.

Die EFF-leier, Julius Malema, het gesê hulle beplan om hof toe te gaan as die speaker, Baleka Mbete, nie instem om die datum van die mosie van wantroue vorentoe te bring nie.

Malema het gesê: “Ramaphosa het ook Zuma verdedig. Cyril is nie die probleem nie, die ANC is die probleem. Hulle moet uitgestem word.

“Ons kan nie weer toelaat dat twee elite-faksies binne die ANC ’n president nomineer nie. Net die massas moet besluit.

“Vir mense om te dink as Zuma gaan, sal al ons probleme verdwyn, is agterbaks.”

Maimane het vroeër gister gesê Zuma se verwydering en vervolging sal net die eerste stap wees om die land weer op die regte spoor te kry.

Maimane het verduidelik: “Ons is meer vasberade as ooit om in ’n politieke ruimte te beweeg waar ons idees en beleid kan debatteer eerder as oor persoonlikhede.

“Die stryd gaan nou oor wie werk kan skep en die ekonomie kan uitbrei, wie ons onderwysstelsel kan reg­ruk en ’n veilige en korrupsievrye land kan skep.”

Uitkoms

Maimane het bygevoeg die werklikheid is dat terwyl Ramaphosa en Zuma, asook hul onderskeie faksies in die ANC, mekaar beveg, bly die lewe van gewone Suid-Afrikaners onveranderd.

Maimane het verder gesê die DA sal net een uitkoms van gister se spesiale vergadering van die ANC se NUK aanvaar, as daar beslis ’n besluit is.

“Dit is die verwydering van Jacob Zuma en sy cronies­ en hul onmiddellike vervolging.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters