Verlede maand
Wet oor geld aan partye April in werking
Cyril Ramaphosa het in Januarie 2019 die wet bekragtig.  ~ Argief

DIE Wet op die Befondsing van Politieke Partye tree op 1 April in werking, het die presidensie Vrydag in 'n verklaring aangekondig.

Die wet, wat pres. Cyril Ramaphosa in Januarie 2019 bekragtig het, gaan openbare en private befondsing van politieke partye reguleer.

Dit behels ook dat politieke partye skenkings aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie moet bekendmaak.

Skenkings aan partye deur buitelandse regerings en mense, staatsinstellings of staatsondernemings word ingevolge die wet verbied. Partye mag wel skenkings van die buiteland ontvang vir opleiding en vaardigheids- en beleidsontwikkeling.

"Die implementering van die Wet op die Befondsing van Politieke Partye gaan verrykende gevolge vir goeie regering en etiese politieke aktiwiteite hê. Dit gaan die vertroue van landsburgers in die demokratiese politieke proses versterk en hulle in staat stel om hul reg tot inligting te handhaaf," lui die verklaring.

Die veelpartydemokrasiefonds, wat politieke partye gaan finansier, gaan ook verseker politieke partye kry voldoende fondse om hul werk in 'n regverdige en onpartydige manier te doen, sê die presidensie.

"Die inwerkingtreding van die Wet op die Befondsing van Politieke Partye op 1 April 2021 is deel van dié administrasie se verbintenis tot die verbetering van deursigtigheid en verantwoordbaarheid in die regering."


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters