22 dae gelede
Werker by garage word nou geseën
Samaritaan: Nkosi­kho Mbele se barmhartigheid het sy hele lewe verander.Foto: FACEBOOK  ~ 

DIE internet gons behoorlik oor die barmhartige petroljoggie wie se lewe nou heeltemal omgekeer is.

Nkosikho Mbele (28) van Khayelitsha werk by die Shell-garage langs die N2.

Mbele het laas Donderdagoggend vrywillig R100 se petrol in ’n vreemdeling se kar getap – en sy daad van vriendelikheid werp nou vrugte af.

Monet van Deventer (21) het by die garage gestop en besef dat sy haar kredietkaart by die huis vergeet het.

Die gawe Mbele het nie twee keer gedink om haar te help nie.

Inskrywing

Mbele was bekommerd dat Van Deventer sonder petrol langs die gevaarlike N2 kan gaan staan.

Hy het toe met ’n warm hart aangebied om petrol in haar kar te gooi.

Van Deventer het ’n inskrywing op Facebook oor die gebeurtenis gemaak.

Sy sluit die inskrywing af deur Mbele te bedank: “Dankie, Nkosi­kho, vir jou mooi hart. Jy het vandag vir my hoop vir ons land gegee.

“Mag Jesus jou lewe seën!”

Die reaksie op die inskrywing was ongelooflik en mense het op Backabuddy.co.za begin om geld vir Mbele in te samel.

Liefdadigheid

Daar was teen gistermiddag al R478 000 vir Mbele ingesamel. Hy wil graag vir sy vrou en twee kinders sorg.

Shell het aan News24 gesê Mbele is ook benoem om die maatskappy op die Shell Global Service Excellence Awards in die buiteland te verteenwoordig.

Hy beplan glo ook om by liefdadigheid betrokke te raak en kinders op straat te help.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters