2 maande gelede
Vrou vas vir hubby se moord
GEARRESTEER: Suretha Brits word daarvan verdink dat sy die meesterbrein agter haar man se moord was.  ~ Foto Verskaf

WAS haar hartseer en volgehoue verlange na haar vermoorde man ’n teken van skuld?

Dit is die vrae waarmee mense van die Noord-Kaap steeds wroeg.

Dis nadat Suretha Brits (30), hul “engelmens”, Maandag in Kakamas gearresteer is vir die moord op haar man, Leon “Lings” Brits (41), sê kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.

Leon, ’n hoteleienaar in Pofadder, is op 7 Oktober 2020 wreedaardig vermoor en in die swembad by die hotel gegooi. Suretha het van Kakamas gereis en het later sy lyk daar gevind.

Die polisie het drie verdagtes – Jacques van Vuuren (37), Amantle Bareki (24) en Enrich Williams (34) – gearresteer vir moord, roof met verswarend omstandighede en die onwettige besit van ’n vuurwapen.

As die mense van Kakamas nou na al haar Facebook-inskrywings kyk, kan hulle nie glo dat sy moontlik alles beplan het nie.

Op 11 November 2020 het sy byvoorbeeld geskryf: “Lings, vanoggend kry ek baie swaar. Ek weet nie hóé sonder jou nie. Ek het soveel vrae wat ek jou nog moet vra.

“Ek kyk na die ses ogies wat staar na my op soek na antwoorde en ek gaan op my knieë nog een maal en vra: Here, hoekom? Hoekom is hy weggevat van my gesin af??”

In ’n ander Facebook-inskrywing staan: “My lewe is tot stilstand geruk ... Ons grootste belegging, ons kinders ... jou woorde die aand voor jou dood ... Vanaand sluk ek swaar...”

Voor haar arrestasie skryf sy heel laaste so op Facebook aan hul drie kinders: “Vandag was jul eerste markdag. Pappa sou super trots wees en Mamma se hart wil uit haar bors klim.”

Baie inwoners kruisig haar egter hieroor. ’n Paar probeer haar verdedig en sukkel om haar Facebook-profiel toegemaak te kry.

Soos wat dit maar in klein gemeenskappe gaan, gons dit in hierdie stadium behoorlik oor die weduwee se arrestasie.

Mang

Suretha se arrestasie volg nadat Van Vuuren verlede Donderdag ’n pleitooreenkoms met die staat bereik het. In sy pleitverduide­liking het hy vertel Suretha het hom in 2020 genader en gevra om Leon vir R400 000 te vermoor of te laat vermoor.

Sy vonnis was toe 25 jaar vir moord (5 jaar opgeskort), 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en 3 jaar vir die onwettige besit van ’n wapen. Hy sal effektiewelik 20 jaar mang.

Suretha loop van vandag af hof en staan tereg op klagte van moord, roof met verswarende omstandighede en meineed.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters